6.10.2009 UDF terug in Khomas
DIE United Democratic Front (UDF) het Saterdag sy eerste saamtrek in jare in die Khomas- streek gehou om die hervestiging van die party se beleid en teenwoordigheid in die streek te beklemtoon.
Die saamtrek, wat eers met ’n optog in Onafhanklikheidslaan begin het, het uitgeloop op die byeenkoms in die Katutura Jeugkompleks. Ondersteuners in blou en wit het die stadion ingestroom terwyl ’n musiekgroep tussen die toesprake deur die gehoor lig van gees gehou het.
By die geleentheid is die UDF-manifes bekendgestel. Toesprake hieroor is deur die party se sekretaris-generaal, mnr. T.D. Murorua, sy eweknie by die vroueliga, me. Dorca Shikongo, asook die Jeugliga se sekretaris-generaal, mnr. Reginald Roman, gelewer.
Die UDF-president, mnr. Justus //Garoëb, het die gehoor aangespoor om die party te ondersteun om kwale in die samelewing soos armoede en ongeletterdheid te help oplos deur UDF se teenwoordigheid ook in ander streke behalwe die Kunene-streek duidelik te laat geld.
Hy het sy stem dik gemaak oor die nodigheid vir verandering in regeringstyl en dat ’n nuwe blink toekoms op Namibië wag as ander politieke partye ook groter sê in die regering kan kry.
Hy het klem daarop gelê dat die enigste wyse hoe kiesers kan verseker dat hul belange hanteer word, is om in die komende nasionale verkiesing te stem.
Vroueregte is ook druk bespreek tydens die saamtrek en mnr. //Garoëb meen die UDF weerspieël meer deursigtigheid en gelykheid as die huidige regerende party.
Hy het ook die Jeugliga bedank vir sy pogings om veld vir die UDF in die Khomasstreek te herwin.
Hein Scholtz
|