16.05.2008
Tweede verdagte vas
Pangamoord
DIE tweede verdagte in die koelbloedige pangamoord op Okahandja het sy rieme vroeg gisteroggend styfgeloop. Lede van die polisie se eenheid vir ernstige misdaad en ‘n private sekuriteitsmaatskappy het die tweede vermeende pangamoordenaar in die gru-moord van mnr. Andrei Pastouchkov en sy vrou, Svetlana Lobanov, in die omgewing van Otjimbingwe in hegtenis geneem.
Die inhegtenisneming is moontlik gemaak omdat dieselfde ondersoekspan die eerste verdagte, ‘n 18-jarige man, deur die loop van Dinsdagaand op ‘n hervestigingplaas naby Otjimbingwe vasgetrek het. Tydens die inhegtenisneming het die eerste verdagte haarfyn beskryf hoe hy en sy makker die egpaar met ‘n panga vermoor en probeer het om hul lyke weg te steek.
Hy het ook ‘n beskrywing van sy makker gegee wat die ondersoekspanne op die tweede verdagte se spoor gesit het. Die name van die verdagte moordenaars sal môre bekend gemaak word na hulle hul eerste verskyning in verband met die gru-daad in die landdroshof op Okahandja gemaak het.
Beide die verdagtes het vir die Russiese egpaar gewerk op die kleinhoewe waar hulle met hoenders geboer het. Die egpaar is Vrydagmiddag laas lewendig gesien en die gewelddadige moorde is volgens die eerste verdagte deur die loop van Saterdag gepleeg. Bure van die egpaar het Dinsdag, ná die lyke op die kleinhoewe by die Hochveld-afdraaipad noord van Okahandja gevind is, aan lede van die ernstige misdaadeenheid vertel dat hulle ‘n luidkeelse stryery gedurende Saterdag gehoor het.
Drie dae later het ‘n vriend van die egpaar besluit om na hulle te gaan soek omdat hy hulle vir twee dae lank nie kon kontak nie. By hul huis aangekom, het die vriend en mnr. Grotes Jansen die lyk van me. Lobanov in die huis en die lyk van mnr. Pastouchkov in die hoenderhokke gekry. Hulle moes die slotte aan die hekke van die eiendom knip om toegang tot die perseel te verkry.
Mnr. Pastouchkov het twee waghonde wat hy uit Rusland na Namibië gebring het daar aangehou. Die honde het volgens mnr Jansen gelyk of hulle dae lank geen kos gekry het nie en hy het gesê van die hoenderkuikens het reeds as gevolg van hongerte begin vrek. Nie een van die werknemers was te bespeur toe die soekgeselskap daar aangekom het nie.