7.10.2008

Twee sterf in huisbrand

TWEE mense het grusaam gesterf toe ’n sinkhuis waarin hulle aan die slaap was in die Okuryangava-woonbuurt in ligte laaie opgegaan het. Volgens hoofinspekteur Angula Amulungu van die polisie se skakelafdeling in Windhoek het die huis afgebrand na ’n brandende kers vermoedelik omgeval het.

Insp. Amulungu sê sewe mense was Saterdag 02:00 aan die slaap in die huis toe dit aan die brand geraak het. “Vyf van die mense kon daarin slaag om na veiligheid te vlug toe die brand uitbreek, maar twee is deur die rook en vlamme oorval en het gesterf.” Die name van die oorledenes is Grisipi Kakorute en Vistoria Nghishiti.

• Op Otjiwarongo ondersoek die polisie ’n saak van moord na twee mans na ’n drinksessie in die Orwetoveni-woonbuurt aan die baklei geraak het. Tydens die voorval Saterdag omstreeks 04:00 is die 21-jarige Saul !Khaoseb met ’n mes gesteek. Hy het op pad na die hospitaal gesterf en ’n 37-jarige man is in verband met die moord in hegtenis geneem.

• Die polisie van Wanaheda is op soek na ’n man wat na bewering ’n 19-jarige vrou in die bosse naby die Goreangab-woonbuurt verkrag het. Volgens insp. Amulungu ken die slagoffer haar aanvaller.

Die vrou het volgens haar verklaring aan die polisie Saterdagoggend vroeg in ’n sjebeen gedrink. Die aanvaller het aangebied om saam met die slagoffer na haar huis te stap. Op pad daarheen het die man haar in die bosse ingesleep en haar na bewering verkrag.