2.10.2008

Twee gesinne in rou ná fratsongelukke op hul werf

IN twee hartverskeurende voorvalle die afgelope twee dae is gesinne in rou gedompel toe fratsongelukke tuis ’n geliefde geëis het. Albei dié gesinne woon oorkant skole waar die personeel en leerlinge hulle binne minute te hulp gesnel het.

Op Okahandja is ’n bejaarde van 93 jaar eergister dood toe sy dogter oor hom gery het nadat hy in die oprit flou geword het en sy nie besef het hy is agter die motor nie. In Windhoek moes ’n jong egpaar gister tuiskom na die nuus dat hul woelwaterseuntjie van 18 maande wat onlangs maar eers sy eerste woordjies begin sê het, van ysters waarop hy geklouter het afgeval en vermoedelik sy nekkie gebreek het.

Hy was net vir ’n oomblik onder die waaksame oog van sy oppasser uit toe sy in die huis in is om wasgoed uit die tuimeldroër te haal. Mnr. Hilton Jearey van Okahandja het gister vertel hoe hy en sy vrou, Bettie, die vorige oggend gereed gemaak het om werk toe te ry – min wetende wat minute later sou gebeur.

Mnr. Jearey se skoonouers, mnr. Koen en me. Hendrina Strydom (87), bly in ’n woonstel agter hul huis. “Ek en Oupa het nog by die hek gestaan en gesels. Hy het elke dag die voëlbakke skoongemaak en ons het nog gepraat oor die ringnekke wat kleintjies het. Bettie, wie se kar agter my werksmotor in die oprit gestaan het, het gegroet en gesê sy ry solank werk toe.

Ons werk albei by Namwater.” Hy vertel dat toe hy in sy motor klim en dit aanskakel het hy in die truspieëltjie gesien sy skoonpa se hoed lê in die oprit. “Bettie was besig om agteruit te ry en toe sien ek, heng, daar steek Oupa se bene langs die oprit uit.

Ek skreeu toe vir haar: ‘Whoa! Whoa!’” Mnr. Jearey sê hy vermoed sy skoonpa het flou geword, want sy vrou het hom glad nie gesien nie. “Sy het eers besef iets is fout toe sy voel daar is iets onder die kar.” Intussen het leerlinge van die Berg-op Akademie, ’n private skool oorkant die straat, gesien wat gebeur het en aangehardloop gekom.

“Hulle het die kar opgetel, want die onderstel het op Oupa se bors gedruk.” ’n Dokter is dadelik ontbied en die bejaarde mnr. Strydom is per ambulans na die Katolieke hospitaal in Windhoek gebring. “Daar het ’n spesialis gereed gestaan en hulle het dadelik X-strale van sy borskas geneem.”

Mnr. Strydom het egter later die middag aan sy beserings beswyk. “Hy is dood terwyl die spesialiste besig was om ’n breinskandering te doen. Hulle vermoed dat hy ’n beroerte gehad het kort nadat ek en hy die oggend by die hek gestaan en praat het.”

• Teen laat gistermiddag was min inligting nog bekend oor die omstandighede waaronder die babaseuntjie gisteroggend in Windhoek se Eros-woonbuurt is. Sy naam is nog nie deur die polisie bekend gemaak nie.

Die voorval het reg oorkant die Wonderland Kleuterskool plaasgevind. Volgens ’n personeellid het hulle iemand vreeslik hoor skree en gaan ondersoek instel. Sy oppasser het egter net haar kop vasgehou en geskree. Sy was te geskok om te praat. Die vermoede bestaan dat hy van rommelyster op die werf waarop hy geklim het, afgeval en sy nek beseer het.

Die seuntjie se ma het kort daarna by die huis aangekom en ’n rukkie later ook sy pa, vertel die personeellid, “My hart het inmekaar gekrimp vir die ouers. Die ma het die seuntjie verwese teen haar bors vasgeklem en aanmekaar gesê: ‘Asseblief, laat my kind net weer lewendig word’.”

Sy vertel dat sy en haar kollegas dadelik opdrag gegee het dat al die kleuters by die kleuterskool na binne geneem word sodat hulle nie ontstel kon word deur die teenwoordigheid van die ambulans, polisie en ander noodpersoneel wat daarheen ontbied is nie.