22.02.2010 Twee dae voor stemdag
ONGEVEER 14 000 inwoners van die Okahandja-kiesafdeling het die reg om hul kruisies te trek in Woensdag se tussenverkiesing vir ’n vakante setel op die Otjozondjupa-streekraad. Vier kandidate neem aan die stryd deel.
Dit is minder as die ses van 2004, maar meer as in vorige streekraadverkiesings, toe net Swapo en die DTA om die setel meegeding het. In 1992 en 1998 het Swapo gemaklik gewen met onderskeidelik 3 392 en 1 851 stemme teenoor die DTA-kandidaat wat 2 085 en 747 stemme in die twee verkiesings behaal het.
In 1992 was die stempersentasie 81,67% met bederfde stembriewe van 1,72%. In 1998 het egter net 30,85% van kiesers deelgeneem. Die bederfde stembriewe het op 2,88% te staan gekom.
In 2004 het die stemsyfer effens geklim na 37,65%. Swapo het in die verkiesing 2 677 stemme getrek teenoor vyf opposisiepartye se gesamentlike totaal van 1 821 stemme (RP 130, DTA 161, Nudo 556, UDF 448, CoD 526).
Vanjaar het ses opposisiepartye hul steun aan die kandidaat van die Rally for Democracy and Progress (RDP) toegesê, wat in sy eerste probeerslag in November 2009 se parlementêre verkiesing 1 186 stemme in die kiesafdeling gewen het.
Die gesamentlike opposisiestem was 2 304 stemme teenoor 3 536 vir Swapo. Die ander lede van die informele koalisie is Nudo, die UDF, RP, APP, CoD en Namibia Democratic Movement for Change (NDMC).
Volgens mnr. Frans /Goagoseb, president van die NDMC, het mnr. Joseph Kauandenge tot “sekere sake opgelos is” steeds geen gesag om namens die party te praat nie.
Mnr. Kauandenge het aanvanklik ontken dat die party die informele koalisie ondersteun. Volgens mnr. /Goagoseb sal die twis opgeklaar word sodra die kiesslag gelewer is.
|