24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.09.2010

Tuindorp bankrot

© Niël Terblanché
Inwoners van Okahandja het gister in hul honderde na die dorpsraad se kantore opgeruk nadat die nasionale kragvoorsiener, NamPower die dorp se kragtoevoer afgesny het. Die dorpsraad is glo bankrot.

SKADE van miljoene dollar in terme van produksieverliese is in een van Namibië se mees nywerheidsintensiewe dorpe gely toe die nasionale kragvoorsiener gister Okahandja se krag weens algehele bankrotskap summier afgesny het.

Chaos het losgebars toe die inwoners vir hulself wou gaan sien of me. Regina Alughodi, die beleërde hoof uitvoerende beampte van die dorpsraad, haar nie dalk soos ’n vorige keer in haar kantoor gaan toesluit het nie.
© Niël Terblanché
Die kragkrisis is deel van ’n uitgerekte stryd tussen die Tuindorp se Swapo-beheerde dorpsraad en die omstrede me. Alugodhi, oor wie die Politburo vandeesmaand saam met talle ander dissiplinêre geskille in die regerende party standpunt sal moet inneem.

Die eienaars van fabrieke in die dorp se nywerheidgebied en ander sake-onderneming het teen die middaguur in hul menigte voor die munisipale kantore saamgedrom om hul ontevredenheid met die stand van sake sigbaar te maak.

Die groep, wat aanvanklik oorwegend uit wit inwoners van die dorp bestaan het, het vinnig in getalle gegroei toe die inwoners van die informele nedersettings van die versetaksie te hore gekom het.

Anders as ander protesaksies waar ’n versoekskrif oorhandig sou word, het die ontstoke inwoners gewag tot die munisipaliteit om 14:00 hul werk moes hervat en het in hul massas na die voordeur gestap om by die beleërde hoof uitvoerende beampte van die dorpsraad uit te vind wat aan die gang is.
© Niël Terblanché

Me. Alughodi was egter nêrens te vinde nie en die mense wat die kantore beman, het aan die luidrugtige skare verduidelik dat sy na Windhoek gegaan het om NamPower se rekening te betaal.
© Niël Terblanché
Minstens een munisipale beampte van Okahandja moes hom uit die voete maak toe ’n skare oproerige inwoners van die dorp uitvind dat die dorp se krag nie aangesluit gaan word nie.

Gerugte het die rondte begin doen dat die tjeks wat me. Alughodi uitskryf die een na die ander hop en dat die krag nie aangesluit gaan word nie.

NamPower het omstreeks 11:00 gister die hele dorp se krag afgesny nadat die dorpsraad vir die afgelope drie maande nie hul rekening betaal het nie.

Op die toneel is genoem dat die die dorpsraad soveel as N$16 miljoen aan NamPower skuld.

Die werklike bedrag is egter nader aan N$8 miljoen en indien die dorpsraad onder leiding van me. Alugodhi daarin kon slaag om die helfte van die bedrag te betaal, sou die krag weer aangesluit word.
© Niël Terblanché

Gerugte dat die dorp se water ook afgesny gaan word, het by die munisipale kantore soos ’n veldbrand versprei. Die gerugte is egter gou as onwaar ontbloot.

Me. Alughodi en haar afvaardiging dorpsamptenare is na bewering in die dorp se strate gesien waar hulle van handelsbank na handelsbank stap om vir verdere oortrokke geriewe vir die bankrot dorpsraad aansoek te doen.
© Niël Terblanché
Dit volg op ’n ernstige waarskuwing aan plaaslike owerhede om hul verantwoordelikhede teenoor die inwoners van hul dorpe en ook teenoor diensverskaffers na te kom.

Die permanente sekretaris van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, mnr. Erastus Negonga, was duidelik ontstoke toe hy gisteraand aan Republikein vertel het Okahandja is bankrot. Die probleem strek egter veel dieper. “Daar behoort administratiewe toesig te wees om te verseker dat die betalingskedule waarop die dorpsraad met NamPower ooreengekom het, nagekom word.

“Ons is deur die Okahandja dorpsraad ingelig oor die feit dat die kragtoevoer afgesny is. Hulle het ons ook meegedeel dat hulle alles in hul vermoë doen om ’n ooreenkoms vir die heraansluiting van die krag met NamPower te beding,” het mnr. Negonga gesê.

Die soektog na ’n bank wat oortrokke geriewe kon verskaf, het gehelp, want teen 16:45 was die krag weer aan. Inwoners van Okahandja was egter van mening dat ’n komitee bestaande uit die vervaardigers en sakegemeenskap met die dorpsraad op ’n gereelde grondslag behoort te onderhandel om die beste moontlike samewerking met die plaaslike owerheid te verseker.

In Februarie vanjaar, kort voor ’n tussenverkiesing vir Okahandja se vakante streekraadsetel, moes Swapo se Jeugliga vir Minister Jerry Ekandjo vra om te verhoed dat die Tuindorp se krag afgesny word. Sulke optrede is toe as die sabotasie van die regerende party se verkiesingsveldtog bestempel.
© Niël Terblanché