18.08.2010 TransNamib werkers op staakspoor
DIE arbeidsmag van Namibië se nasionale karweier, TransNamib, sal na verwagting vandag aan hul vakbond die groen lig gee vir ’n staking indien eise vir aansienlike verhogings in komende weke op dowe ore bly val. Twee maande ná die sperdatum vir ’n nuwe betaalkontrak, is daar min tekens van ’n bereidwilligheid om te skik.
Leiers van die vervoervakbond Natau gaan werkers vandag onder hul “Groot Boom” by die Windhoek- stasie vir leiding vra nadat voetsoolagente gister oor die pad vorentoe sou kopkrap. Verlede week is vir vyf dae onderhandel sonder enige noemenswaardige deurbraak.
Hoewel konsensus bereik is oor bydraes tot TransNamib se mediese fonds en daar ooreengekom is dat die formulering van ’n beleid oor behuisingstoelae – al verlede jaar op die agenda – opnuut tot 15 Oktober sal oorstaan, is daar ’n reusagtige kloof van 8% tot 10% tussen geëiste en aangebode verhogings.
In 2008 het ’n weeklange staking by TransNamib die karweier meer as N$50 miljoen uit die sak gejaag en die land se bruto binnelandse produk met ’n geskatte N$180 miljoen geknou. Die onwettige staking was hoofsaaklik polities gemotiveerd, met die skorsing van die karweier se hoof uitvoerende beampte, mnr. Titus Haimbili, as die kernstrydpunt.
In Suid-Afrika het Transnet se arbeidsmag vroeër vanjaar vir byna drie weke gestaak voordat daar ná massiewe verliese en ontwrigting op die vooraand van die Wêreldbeker-sokkertoernooi tot ’n eenmalige bonus van 1% as aanvulling tot verhogings van 11% ingestem is.
By Namdeb was ingryping op die hoogste maatskappy- en regeringsvlak onlangs nodig om ’n ewe warm betaaltwis te ontlont. Namibië se diamant-arbeidsmag op land het reeds toestemming gehad om te staak voor daar ter elfder uur vir ’n verhoging van 10% geskik is.
TransNamib is tans op grond van die heersende inflasiekoers, verlede maand bereken op 4,6%, net te vinde vir verhogings van 5% op betaalvlakke A en B. Volgens die bestuur verteenwoordig Natau nie meer as die helfte van werkers op C-skale nie, en kan die vakbond dus nie namens die werknemers onderhandel nie.
Natau eis verhogings van 13% op vlak A, 12% op vlak B en 10% op vlak C. Wat vervoertoelae betref, het die vakbond sy eis van N$500 per maand verlaag tot N$380. TransNamib bied net N$332 aan. Geduld met mnr. Haimbili, voorheen ’n Natau-held, hang aan ’n dun draadjie.
“Tyd vir speletjies is verby,” is uit vakbondgeledere gewaarsku midde bewerings dat die karweier se bestuur “wegkruipertjie” speel en onderhandelinge onnodig frustreer.
Ontstoke werkers dink dit is hoogtyd dat daar iets kom van 2008 en 2009 se beloftes dat die lot van TransNamib se sowat 1 500 werkers aansienlik sal verbeter. Soos sake staan, sal geen verhoging vir oortyd geld vóór ’n nuwe ooreenkoms beklink is nie.
Mnr. John Kwedhi, Natau se sekretaris-generaal, het gesê dit is in die stadium onvanpas om kommentaar te lewer omdat dit die betaalgesprek kan vertroebel. Hy het benadruk dat prosesse nog nie naastenby uitgeput is nie. Sodra mnr. Haimbili skriftelik kennis ontvang dat ’n dooiepunt bereik is, het TransNamib vyf dae om hernude onderhandelinge te belê.
Eers as die gesprek ook op die rotse loop, kan die vakbond volgens mnr. Kwedhi vir konsiliasie vra – wat eweneens moet misluk voor werkers wettig sal kan staak. Verlede jaar se betaalstryd by TransNamib was ewe warm en is eers in Oktober bygelê.
Uitgerekte onderhandelinge het toe, op voorwaarde van groter doeltreffendheid en produktiwiteit, uitgeloop op ’n totale verhoging van 12,6% – bestaande uit 7,6% op skale A1 tot B4 en ’n bykomende 5% in Desember 2009. Vervoertoelae is van N$230 tot N$300 verhoog.
Die karweier en Natau het verlede week ooreengekom op mediese fonds-bydraes van 80% deur die werkgewer en 20% deur werknemers op A-skale, en 75% teenoor 25% op B-skale. Natau eis dat enige nuwe behuisingstoelae terugwerkend vanaf 16 Junie vanjaar betaalbaar is.
|