TRANSNAMIB se lokomotiewe was gister vir ’n sewende dag op die syspore getrek in ’n onwettige staking waarvan die einde steeds nie in sig is nie.
Met arbeidsproteste wat op al wat ’n front is, uitslaan, sal ook werknemers van die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) vanoggend en oor middagete in die hoofstad betoog oor hul stryd om ’n nuwe vakbond te kry.
“Nog nooit nie,” was die antwoord van die nasionale karweier se treindrywers op onder meer Walvisbaai op die vraag of hulle weer sal inval. Hulle eis steeds skriftelike antwoorde van die bestuur en/of direksie, of ’n besoek ter plaatse.
Die bestuur van TransNamib was teen saktyd steeds in indringende samesprekings gewikkel.
Die Namibiese Unie vir Vervoeren Verwante Werkers (Natau) het by monde van sy hoofsekretaris, mnr. John Kwedhi, opnuut ’n beroep op stakers gedoen om Saterdag se hofbevel te eerbiedig.
Kwedhi het volgehou dat net ’n paar depots aanvanklik begin staak het. Hy het egter benadruk dat die verandering van salarisskale diensvoorwaardes beïnvloed en dat die vakbond weens die onwettige en eensydige verandering van salarisse nie sy lede in die steek kan laat nie.
Natau gaan ’n klag by die Arbeidskommissaris indien en sal buite werksure met vreedsame betogings volhou totdat die geskil bygelê is.
“Die blaam rus ewe veel by die direksie en hul bestuur,” het Kwedhi getier. “Ons werk saam met saboteurs en as die aanstellingsowerheid (die Regering) nie nou optree nie, moet die nasie binnekort ’n ramp verwag.
“TransNamib se bestuur het die vermetelheid en stamina om skuiling by die gerespekteerde hof te gaan soek, maar die hof behoort ook ekstra moeite te doen om diegene wat die regbank gebruik om hul gemors reg te stel, te herinner dat geregtigheid nie oneerlike mense mag beskerm nie.”
Volgens mnr. Jerome Mutumba, woordvoerder van Rössing, het die uraanmyn nog genoeg suur om produksie volstoom tot die naweek vol te hou.
Natau se president, mnr. Dawid Tjombe, het teenoor Republikein benadruk dat hy nooit personeel op Walvisbaai uitgesonder het as sogenaamde belhamels wat die staking begin en nou die hele spoornetwerk gyselaar hou nie.