23.08.2010 Toets TransNamib, eis karweier se werkers
 Mnr. John Kwedhi, sekretaris-generaal van Natau, en mnr. Albert Engelbrecht spreek werkers van TransNamib toe onder hul “Groot Boom” by die Windhoek-stasie.
WERKERS van TransNamib het die vervoervakbond Natau na die onderhandelingstafel terug gestuur met die opdrag om rotsvas by eise vir salarisverhogings van 12 tot 13% te staan.
Die karweier bied tans net 3,5 tot 5% aan.
Oor ’n moontlike staking was werkers egter diep verdeeld, met verliese aan inkomste tydens twee jaar gelede se onwettige staking en die gevolglike wantroue in vakbondleiers kennelik nog baie vars in die geheue.
Onder die Groot Boom by die Windhoek-stasie is Woensdag openlik gemor oor die bestuur se huidige skraps aanbiedinge.
“Ons kan nie hier oorleef of genoeg geld huis toe stuur nie,” het een man met afhanklikes in die Verre Noorde gekla.
Vir werkers op betaalvlakke A1 tot A3 sal ’n 5% verhoging maandeliks ná aftrekkings ’n skamele N$60 ekstra in die sak beteken, het Natau verduidelik. Met N$32 meer per maand vir vervoer, tans N$300, kan mense volgens die vakbond steeds nie eens elke dag taxi ry nie.
“Wat is verkeerd met TransNamib?” is gewonder oor die N$45 per maand wat party werkers as behuisingsubsidie kry.
Soos in 2009 het kritiek teen Natau opnuut uit verskeie kele opgeborrel.
“Julle maak net praatjies,” het een werker beskuldig. “Ons vertrou niemand meer nie,” het ’n ander beklemtoon.
“Hoe raak jy daarvan ontslae?” het nog ’n man gevra oor die belofte in 2008 dat werkers die stewels wettig opgehang het – bloot om ’n hele week se geld te verloor. “Watter vertroue het ons in Natau om ons in dié geskil te lei?” wou hy weet.
“Gaan ons weer geld verloor?” het nog een gevra. “As ons staak dan flop ons net,” was ’n ander mening.
Party werkers het ’n hernude skikking as onvermydelik bestempel. “Staak! Staak!” het ander egter luidkeels aangevuur.
“Toets hulle,” het ’n gryskop geëis volgens wie TransNamib 35% slegter as verwante bedrywe betaal. ’n Ander opdrag was om vas te byt tot die bestuur die verskoning vergeet dat daar nie geld vir die werkers is nie.
“Ons weet almal onderhandelinge is maar altyd ’n proses van gee en neem; dit is ’n proses van roei en stoei,” het Natau se mnr. Albert Engelbrecht aan die groot groep onthutste werkers gesê.
“Dit was ’n opdraande stryd,” was die boodskap oor ’n moeisame proses waarin die bestuur met ’n zero-aanbod vir verhogings weggespring het. In die skaduwee van die Groot Boom is aangevoer dat die bestuur deurgaans in slegte trou onderhandel het – volgens die vakbond direk in stryd met mnr. Titus Haimbili, hoof uitvoerende beampte by die karweier, se opdrag dat TransNamib eers sy arbeidsmag moet “diens” voor groot geld op masjiene uitgegee word.
“Natau voel die proses moet in ’n hoër rat gesit word,” is gerapporteer oor die hersiening van die karweier se behuisingbeleid. ’n Taakspan bestaande uit lede van die bestuur en vakbond moet volgens mnr. John Kwedhi, die vervoerbond se sekretaris-generaal, teen die tweede week van September ’n omvattende konsepbeleid gereed hê vir verdere oorweging.
Dieselfde taakspan sal ook die herinstelling van langdiensbonusse ondersoek. “Om die moraal van werkers effens te verbeter,” het mnr. Engelbrecht gemotiveer.
Destyds, het hy benadruk, het die beleid gediskrimineer. “Een man het vir tien jaar se werk ’n pak kerse gekry en die ander ’n goue horlosie.” Eenvormigheid is nou die nie-onderhandelbare vertrekpunt.
Mnr. Kwedhi het onderneem om so gou moontlik ’n opvolgvergadering met die bestuur te belê ná ’n eerste ronde onderhandelinge verlede week vasgeval het.
Al waarop reeds ooreengekom is, is dat die werkgewer sy bydrae tot die mediese fondse van werkers in betaalkategorieë A en B met onderskeidelik 8 en 13% sal opstoot. “Hier was die bestuur baie tegemoetkomend,” het die vakbond gesê.
Volgens Natau was die “troefkaart” dat minder as die helfte van personeel in kategorie C aan die vakbond behoort ’n groot skok. “Net as ons verenig, kan ons julle leeftoestande verbeter,” was die snydende boodskap aan mense wat “in lugversorgde kantore sit en dink hulle het klaar die boonste sport van die prestasieleer behaal, terwyl hulle suiker van dieselfde Makalani wil eet.”
|