
Die “Orde van Hildegard”
TYDENS die Napoleontiese oorloë vanaf 1799 tot 1815 toe Napoleon teen verskeie Europese nasies oorlog gevoer het, het keiser Friedrich Wilhelm III van Pruise op 10 Maart 1813 die Ysterkruis in drie klasse vir die eerste keer ingestel. Pruise was in daardie stadium in ’n oorlog met Frankryk onder Napoleon gewikkel.
Keiser Wilhelm I was self vereer met die Ysterkruis toe dit in 1870 gedurende die Franko- Pruisiese oorlog aan hom toegeken was.
Aan die begin van die Eerste Węreldoorlog in Augustus 1914, het keiser Wilhelm II besluit om die toekenning van die Ysterkruis vir braafheid en dapperheid op die slagveld te laat herleef. Hy het sodoende ’n tradisie van sy koninklike Pruisiese voorvaders voortgesit en aan die bevelvoerders van sy keiserlike magte in die Duitse kolonies die bevoegdheid gegee om die Ysterkruis namens hom aan soldate toe te ken.

Hildegard Seitz, vrou van die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, wie se Ysterkruise van lap aan die uniforms van vele Duitse soldate in Duits- Suidwes-Afrika gepryk het. (Foto’s uit die private versameling van Gordon McGregor)
Die eerste groot veldslag in Duits-Suidwes-Afrika het op 26 September 1914 by Sandfontein plaasgevind. Die getalsterkte van die Unietroepe van Suid- Afrika het dié van die Schutztruppe by verre oortref, maar die Schutztruppe het desondanks daarin geslaag om die oorwinning te behaal. Na die geveg het die bevelvoerder van die Schutztruppe, lt.kol. Joachim von Heydebreck, die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, dr. Theodor Seitz, genader en aanbeveel dat die Ysterkruis aan sekere van sy manskappe toegeken word.
Die Eerste Węreldoorlog het Duits-Suidwes-Afrika egter van die vaderland afgesny en ’n tussentydse maatreël moes getref word tot tyd en wyl die medaljes van Duitsland gestuur kan word. Geen fabriek het op daardie tydstip in die kolonie bestaan wat medaljes kon vervaardig nie en die goewerneur se vrou, Hildegard, het met ’n oplossing, hoewel van tydelike aard, vorendag gekom.
“Wat van ’n medalje wat van lap gemaak is?” het sy gevra. “Dit kan deur die dames van die Vroue-afdeling van die Duitse Rooikruisvereniging in die Duitse kolonies gemaak word en aan die manskappe se uniforms vasgewerk word.”
Die voorstel was aanvaar en ’n verordening rakende die toekenning van die voorlopige toekenning, die “swart kruis met ’n wit of silwer rand”, was op 18 Oktober 1914 uitgevaardig. Volgens die verordening was dit slegs in een klas aan offisiere en manskappe toegeken en geen verskil was tussen eerste en tweede klas gemaak nie. Hierdie handwerk het onder die soldate gou as die “Orde van Hildegard” bekend geword.
Die eerste toekenning van Hildegard se lapmedaljes was op 22 Oktober 1914, die verjaardag van keiserin Auguste Viktoria, gemaak. Die meeste van die 42 ontvangers was lede van die Tweede Regiment wat weens hul dapperheid tydens die geveg by Sandfontein vereer was. ’n Volgende lys van 37 ontvangers, meeste van die Eerste en Derde Regiment, was op 27 Januarie 1915, die geboortedatum van keiser Wilhelm II, op Aus gepubliseer. Dit is ongelukkig nie bekend hoeveel ander soldate daarna ook die “Orde van Hildegard” ontvang het nie, aangesien die rekords wat dit sou kon staaf en wat in die argief in Potsdam bewaar was, gedurende die Tweede Węreldoorlog vernietig is.
Die twee naamlyste van ontvangers van hierdie toekenning was in opdrag van lt.kol. Von Heydebreck opgestel wat tydens ’n oefening met nuwe geweergranate in November 1914 tragies verongeluk het. Sy opvolger en die laaste bevelvoerder van die Schutztruppe, majoor Erich Victor Carl August Franke, het besluit om met die lapmedalje weg te doen en eerder die egte Ysterkruis aan sy manskappe toe te ken.
Op 9 Julie 1915 het die Schutztruppe by Khorab in die omgewing van Otavi aan die sterker magte van die Unietroepe oorgegee. Offisiere en manskappe was na die interneringskamp op Aus geneem en Suid- Afrikaanse soldate het met verbasing na die buitengewone swart lapkruis met die wit rande op sommige van die Duitse soldate se uniforms verwys.
Na die Eerste Węreldoorlog het die Duitse militęre owerheid die “Orde van Hildegard” met die Ysterkruis (tweede klas) vervang. Hildegard se interim medalje sou egter agter die gordyne van die geskiedenis in die vergetelheid geraak het, was dit nie vir ’n koloniale uitstalling in Dresden in 1939 toe dit vir die eerste keer aan die publiek vertoon was nie. (Oorspronklike weergawe in Engels deur Gordon McGregor geskryf)