31.01.2012 Toeriste gehoorsaam Dorob se regulasies
’n VERBETERING in die publiek se houding teenoor die beskerming van die nuut geproklameerde Dorob Nasionale Park is die afgelope feesseisoen waargeneem.
Volgens die koördineerder van die Nacoma- projek, mnr. Rod Braby, kan die verbetering teenoor vorige seisoene moontlik toegeskryf word aan die feit dat die omgewing langs die kus as ’n park geproklameer is. Hy meen ook dat mense dalk skuldig gevoel het om in die park in te ry nadat gedeeltes van die omgewing deels begin herstel het ná die besonder goeie reënseisoen wat verlede jaar landswyd ervaar is.
Die Kuisebdelta het ook steeds water en volgens Braby het dit toegang vir 4x4’s tot sensitiewe gebiede versper.
Braby het Donderdag tydens ’n mediavergadering op Swakopmund gepraat waar terugvoering oor die nakoming van reëlsen regulasies met betrekking tot onder meer die Dorob Nasionale Park verskaf is.
Die skraap van visvangroetes na die strand het op die pad tussen Walvisbaai en die Ugabrivier verder gehelp om die spore van voertuie wes van die pad te verminder. Behoorlike padtekens om die toegangsroetes uit te wys, is egter volgens Braby ’n taak wat nog aangepak moet word.
Nog uitdagings wat heelwat probleme veroorsaak, is deur Braby uitgelig, insluitend rommelstrooiing, vandalisme en die waninterpretasie van permitvoorwaardes vir die duinegordel.
Volgens mnr. Peter Shivute, hoof beheerinspekteur van die Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne, het 2011 in terme van die vermorsing van lewende hulpbronne langs die kus minder erg as vorige jare verloop. Oortredings is wel aangemeld, maar daar was goeie samewerking tussen die publiek en die instansies wat hierdie hulpbronne moet beskerm.
Shivute het egter ook toekomstige oortreders gewaarsku. Hy het aangevoer dat die Ministerie nie van sy verantwoordelikhede teenoor die kus se lewende hulpbronne sal terugdeins nie en dat ook nie onderhandel sal word wanneer dit by die handhawing van die wet kom nie.
|