2.02.2012 Toerismebedryf kry wêreldwye erkenning
TWEE van Namibië se bekende toerisme-ondernemings is as van die wêreld se beste bewarings- en internasionale toerismemaatskappye genomineer.
Wolwedans Collection en Wilderness Safari’s is albei as finaliste van die Tourism for Tomorrow toekenning aangewys. Wolwedans ding mee met Cheli & Peacock African Safari’s (Kenia) en Inkaterra (Peru) om die eerste plek in die kategorie van bewaring.
Wilderniss Safari’s word in die internasionale toerismebedryf- kategorie teen die Banyan Tree Hotels & Resorts-groep van Suidoos- Asië en REI Adventures van die VSA opgeweeg.
Die toekenning word as een van die mees aansienryke in die reis- en toerismebedryf beskou en gee erkenning aan die beste praktyke in volhoubare toerisme in die internasionale mark. Ander kategorieë waarin wenners in April aangewys sal word, is bestemmingsbestuur en gemeenskapsvoordeel.
Die wenners en finaliste van die toekennings word genooi om ’n gesogte seremonie by te woon wat as deel van die World Travel & Tourism Council se jaarlikse Global Top aangebied word. Vanjaar word die geleentheid vanaf 16 tot 19 April in Tokio, Japan gehou.
Die wenners word voor ’n gehoor van 1 000 uitgelese mense in die toerismebedryf, staatsamptenare, ministers van toerisme en die media aangekondig en hul suksesverhale word in tydskrifte soos National Geographic gepubliseer.
Wolwedans is in die hartjie van die Namib Rand natuurreservaat geleë en strek as ’n bewaringsgebied oor 180 000 hektaar. Aktiwiteite sluit in selfbegeleide staptogte, begeleide besigtigingsroetes, lugballonvaarte en sterrekykery.
Wilderness Safari’s bied kamp-, verkennings- en pakketgeleenthede aan en bestuur konsessies in sewe lande in Suidelike Afrika. Gaste van die onderneming verkry dus toegang tot 6,8 miljoen hektaar, lees die webtuiste van Wilderness Safari’s.
Beide Wolwedans en Wilderness Safari’s het tevore reeds van die wêreld se bekendste glansmense ontvang.
|