Temmer van Twyfelfontein

Lank voor die rotsgravures by Twyfelfontein ?n gewilde toeristebestemming geword het en Twyfelfontein as ?n wêrelderfenisterrein erken is, was die gebied sporadies deur die Damara-volk besoek wat hul vee by die syferende fontein laat suip het. David Levin, die boer wat hom in die laat veertigerjare van die vorige eeu op daardie droë stuk aarde gevestig het, het dit die naam Twyfelfontein gegee en gehoop dit sou sy gesin en hul vee kon onderhou. Toe hy die eerste keer navraag gedoen het oor die grond suid van die Aba Huabrivier in die Noordweste van Namibië, was die antwoord dat geen boer daar sou kon oorleef nie aangesien dit woestyn is. Die klerk by die Landraad in Windhoek het verduidelik dat dit sy taak was om seker te maak dat mense hulle nie vestig op plekke waar hulle nie ?n bestaan kon voer nie. Levin se redenasie was dat hy slegs belangstel in die stuk grond waarop die fontein was. Die hele Namibwoestyn rondom dit kon volgens hom onbewoon gelaat word.

In die Damara-taal was die plek bekend as Uiais (fontein) en dit het ?n onweerstaanbare aantrekkingskrag vir Levin gehad. Dit was 1946 en hy en sy swanger vrou Ella, hul twee kinders en sy skoonpa, Dirk de Beer, was van Nuichas in die Suide op pad na De Beer se nuwe plaas in Dobbelsberg en hulle het hulle in Windhoek bevind. Die Levins het met hul vee by sy skoonpa op die trek na die Noorde aangesluit in die hoop om ?n tuiste in die Kaokoveld te vind waar die Administrasie van Suidwes-Afrika sedert 1942 graslisensies toegeken het.

Levin het aansoek gedoen, maar slegs dele van Kaokoland was beskikbaar wat egter nie toegeken kon word voor dit nie opgemeet was nie. Hy was omgekrap, maar het toestemming verkry om by die fontein langs te gaan om vas te stel of hy daar sou kon boer.

Na hulle op Dobbelsberg aangekom het, het dit twee maande geduur voor hulle hulle kon losmaak van die werk wat daar op hulle gewag het om die 300 kilometer na Uiais af te lê. Daar aangekom, het hulle die fontein deeglik ondersoek en gevind dat dit skynbaar deur rotse verstop was en planne beraam om dit oop te maak.

Aan die begin van 1947 het die Levin-gesin die trek na die Noordweste aangepak. David het sy gesin op die plaas Blaauwpoort gelaat terwyl hy en ?n werker verder na Uiais getrek het om die fontein vir die vee gereed te maak.

Hulle het onder rotse gegrawe om die vloeitempo van die water te verhoog en ?n sloot tot by natuurlike kleiholtes aangelê om suipings vir die diere te skep. Eindelik ten laaste het die res van die gesin hul moeisame tog na hul nuwe tuiste tussen gebleikte gras omring deur rooi tafelberge aangepak.

Die stryd om water het begin.

Dit het fyn beplanning gekos om seker te maak dat mens en dier kon oorleef. Die diere kon slegs elke tweede dag suip en moes die res van die tyd in die veld bly. Die rotse by die bek van die fontein wat die vry vloei van water belemmer het, was egter ?n groot struikelblok. David het gevolglik die meeste van sy tyd daar deurgebring in ?n poging om die bek oop te maak deur van die rotse ontslae te raak. Wanneer besoekers dus opgedaag het, het Ella hulle vertel dat David by die fontein was. Elke keer wanneer Andries Blaauw daar aangedoen het, het hy David op sy knieë gevind, besig om te grawe. Op Andries se vraag hoe dit gaan, het David keer geantwoord dat dit met hom goed gaan, maar hy twyfel of die fontein tot Oktober sou hou wanneer die eerste reën val. Dit het dus nie lank geduur voor Andries na David as David ?Twyfelfontein? begin verwys het nie.

David het die Landraad uiteindelik oortuig om ?n graslisensie aan hom uit te reik, maar hy moes die naam van sy plaas registreer. Andries se goedige spotwoord ?Twyfelfontein? het by hom vasgesteek en dit is die naam wat die plaas vandag nog dra.

Gedurende die eerste paar jaar moes alle huishoudelike water van die fontein af huis toe gedra word en later van die put af wat David gesink het. Die situasie het genormaliseer toe hy ?n pypleiding van die put na die huis aangelê het.

Toe die familie hom net na die oorlog op Twyfelfontein gevestig het, was ?n tekort aan goedere alledaags en die pad na Omaruru, hul naaste dorp, was onbegaanbaar in die perdekar. In hierdie moeilike tye het hulle geleer om mierneste oop te grawe en die grassade daarin te gebruik. Ella het seep van diervet gemaak, brood in ?n klei-oond gebak en sy moes oor ?n oop vuur kos kook. As gevolg van hierdie harde pionierslewe het sy voortdurend gesondheidsprobleme ondervind.

Die Levins se hoofbron van inkomste was karakoelpelse wat aan die boerekoöperasies verkoop was. Bokke was ook soms verkoop en dierebene en velle was dikwels vir meel, suiker, mieliemeel en ander huishoudelike benodigdhede verruil.

David het in 1947 ?n bakkie gekoop en toe hy in 1948 water op die plaas raakgeboor het, kon hy sy kudde gaandeweg uitbrei. Die verstikkende tent was deur ?n riethut vervang wat uiteindelik moes plek maak vir ?n huis van kleistene wat David self gemaak het.

Die huis was kamer vir kamer vergroot en in 1952 is die plaas opgemeet, dieselfde jaar waarin Ella geboorte aan ?n tweeling geskenk het. In die laat 1950?s het ?n droogte geheers en die gesin moes hulle tot die wapad wend met hul vee om weiding te soek. Wanneer die weiding ingegee het, moes hulle noodgedwonge verder trek.

Die Levins se tyd op Twyfelfontein het in die 1960?s aan ?n einde gekom. Ella het in 1962 in die jong ouderdom van 42 jaar gesterf. Die Odendaal-kommissie het die skepping van ?n tuisland vir die Damaravolk in die Kaokoveld ondersoek en David en ander boere was verplig om hul plase te verkoop. Soos van ?n boer verwag kan word, het hy geweldig beswaar daarteen gemaak, maar hy moes uiteindelik swig.

Hy het in 1965 na Outjo verhuis, maar hom later op Piketberg in die Swartland van die Kaapprovinsie gevestig. Vir die res van sy dae het hy egter verlang na sy land, sy mense en sy plaas suid van die Aba Huabrivier ? Twyfelfontein. Ontleen aan Levin, Michiel; David Levin of Twyfelfontein, George, 2009