16.01.2012 Swartrenoster by Okaukuejo dood
 In die verte lê die karkas van die swartrenoster wat verlede week suid van die Nebrowni-watergat naby Okaukuejo gevrek het.
DIE swartrenoster wat verlede week sowat 500 m suid van die Nebrowni-watergat naby Okaukuejo dood is, het gevrek ná hy in ’n geveg met ’n ander renoster betrokke was.
Die dier is nie soos toeriste aan die Etosha Nasionale Park vermoed het, deur stropers afgemaai nie.
Sy karkas is ontdek dieselfde dag waarop ’n noodvergadering oor renosterslagting by Skukuza in die Krugerwildtuin in Suid-Afrika gehou is.
Mnr. Shayne Kötting, ’n bewaarder by Okaukuejo, sê die swartrenoster het met ’n ander bul baklei en vermoedelik ’n rugbesering opgedoen. “Hy was verlam en kon nie opstaan nie,” het Kötting by navraag vertel.
Mnr. Pierre du Preez, hoof bewaringswetenskaplike in die Ministerie van die Omgewing en Toerisme, het die voorval bevestig en gesê die renoster was as gevolg van die beserings baie swak. “Hy was te swak dat ons hom met ’n verdowingspyl kon skiet en ons het besluit om ’n bietjie kans te gee. Die volgende oggend was hy vrek.”
’n Toeris het die karkas Donderdagoggend omstreeks negeuur naby dié watergat opgemerk. Twee bewaarders was besig om ondersoek in te stel.
Hy sê Vrydagoggend omstreeks dieselfde tyd is hy weer by die watergat verby en het gesien hoe tussen agt en tien mense die gebied rondom die karkas fynkam. “Dit het gelyk of hulle na leidrade soek. Die karkas was te ver van die pad om te kon sien of die horings afgesaag is of nie,” vertel die toeris.
Volgens hom het hy Vrydag talle “hooggeplaaste parkbeamptes en polisie” by Okaukuejo opgemerk.
Du Preez sê dit is standaardprosedure om ná so ’n vrekte seker te maak geen vuilspel was betrokke nie. Hy sê die gebied word gewoonlik gefynkam en dien so as opleiding “om die personeel (van die teenstropingseenheid) op hul tone te hou”.
Intussen is nog drie renosterkarkasse Donderdag in die Krugerwildtuin in Mpumalanga, Suid- Afrika, aangetref.
Die karkasse is gekry in dieselfde gebied waar agt karkasse kort tevore gevind is. Al die diere se horings is deur die stropers afgesaag.
Vyf renosterkarkasse is ook verlede week in die private Kwanare- reservaat in dié provinsie gevind nadat die diere deur stropers afgemaai is.
Namibië het tot dusver nog die aanslag van renosterstropers vrygespring.
|