18.01.2012 Strik-probleem in Etosha
WILDSTROPERY in die Etosha Nasionale Park het parkowerhede genoop om patrollies elke tweede week uit te voer om draadstrikke te verwyder.
Die adjunkdirekteur van die park, mnr. Rehabeam Erckie, het egter benadruk dat ernstige wildstropery nie in die park plaasvind nie.
“Ons volg ’n program om wildstropery te voorkom. Ons patrolleer elke tweede week die park net om vir draadstrikke te soek. Ons het egter geen ernstige wildstropery van groot diere soos olifante of renosters ervaar nie,” het Erckie beklemtoon.
Die bevestiging volg op navraag van Republikein nadat ’n leser, me. Edith Stroh, Sondag ’n sebra met ’n draadstrik om die nek naby Namutoni gevind het.
“Ons het dit aan die personeel van Namutoni gerapporteer, maar hulle het gesê dat die leeus die sebra binnekort sal vang,” skryf Stroh.
“Dis nie die punt nie: hoe kom die draad om die arme dier se nek?” wou sy weet.
Erckie het verduidelik dat wildstropery in die park ’n baie ingewikkelde kwessie is met die Hai// om-groep wat spesiale status binne die park handhaaf en op plase aangrensend tot die park woonagtig is. Voorts migreer hulle voortdurend in en uit die park, afhangende van werkgeleenthede en aktiwiteite wat in die omgewing plaasvind.
“Veral naby Namutoni woon jeugdiges van die Hai//om-groep wat nie oor die middele tot oorlewing beskik nie. Sommige van hulle het nie werk nie,” het hy verduidelik.
“’n Mens moet die groter prentjie van hul sosioëkonomiese probleme, soos werkloosheid, armoede en gebrek aan onderrig, verstaan en mens moet hulle verstaan om die probleem op te los. Ek verstaan die Hai//om se situasie,” verduidelik Erckie.
“Ons probeer hulle onderrig en dan is daar regeringsprogramme soos die Geteikende Ingrypingsprogram vir Werkskepping en Ekonomiese Groei (TIPEEG), wat die bosuitdunningsprogram insluit. Met die opgradering van die Etosha-heining sal die Hai//om ook voordeel trek.”
Erckie het bevestig dat ’n kameelperd in Mei verlede jaar onwettig in Etosha gejag is en dat ses verdagtes reeds in die landdroshof op Tsumeb verskyn het.
“In sommige gevalle van wildstropery word die vleis gedroog en dan later gaan haal. Sommige mense het die vleis vir die pot nodig om te oorleef, maar ander het kontant nodig om byvoorbeeld sigarette te koop en dan verkoop hulle die vleis,” het Erckie gesê.
“Ons gryp egter in deur goeie ondersoek te doen. Ons het ’n bestaande program om tussenbeide te tree en ’n spesiale span vir die doelwit is onlangs gekies.”
In die geval van die sebra met die draadstrik om die nek, sê Ercki dat ’n veearts gewoonlik ontbied word wat dan die dier sal verdoof en die draadstrik sal verwyder.
|