19.08.2010 Spesies oor grense heen beskerm
 Die Kavango-Zambezi Oorgrensbewaringsgebied (Kaza-TFCA).
’n GROOTSE oorgrensbewaringsprojek is van stapel gestuur om die uiters bedreigde wildehonde en jagluiperds van Suider-Afrika te bewaar en ’n beter toekoms vir die diere te verseker.
Mnr. Robin Lines, direkteur van die Namibiese Wildehondprojek, skryf in sy jongste nuusbrief navorsingspermitte sal binnekort deur die Zambiese Natuurlewe- owerheid (Zawa) uitgereik word om volskaals met die projek in Zambië se Kafue Nasionale Park te begin.
Mnr. Lines verduidelik dat oorgrensbewaring in sy aanvanklike navorsing as ’n sleutelvereiste uitgewys is om die lewensvatbaarheid van Namibië se wildehondbevolking te onderhou.
“Finansiering is reeds deur die WWF (Wêreldnatuurlewefonds) in Zambië goedgekeur en ’n ooreenkoms vir die navorsing is met Wilderness Safaris se Lufupa River Camp aangegaan.”
Mnr. Lines sê Kafue is ’n reusepark en bykans onbegaanbaar vir die grootste deel van die jaar as gevolg van swaar reën en swak paaie. “Dit is byna onmoontlik om betekenisvolle navorsing te doen sonder goeie logistieke ondersteuning.”
In die nuusbrief verduidelik mnr. Lines bewaringsorganisasies het besluit om bewaringsbeplanning in die streek vir wildehonde en jagluiperds te doen omdat die spesies ooreenstemmende bewaringsvereistes het en omdat dit belangrik is an die spesies se bevolkings in die Kaza-TFCA (Kavango-Zambezi Oorgrensbewa-ringsgebied) te bestuur. Dié TFCA is die grootste oorgrensbewaringsinisiatief. Dit sluit vyf lande en 36 geproklameerde bewaringsgebiede in en strek oor 287 132 vierkante kilometer.
Tydens die beplanning van die navorsingsprojek is ’n paar sleutelgebiede vir bestuur en navorsing uitgelig. Een hiervan is om wildehonde in die Etosha Nasionale Park te hervestig en ’n ander is om die bewaringstatus van wildehonde en jagluiperds in die Kafue Nasionale Park te verstaan. Die park strek oor 2,2 miljoen hektaar en wanneer die aangrensende wildbestuurgebiede bygereken word, beslaan die bewaringskring 6,7 miljoen hektaar.
“Kafue is die tuiste vir die grootste verskeidenheid wildsbokke in Afrika – ’n prima roofdierhabitat wanneer dit reg bestuur word. Vanweë die omvang van die park is nie voorheen grondlynstudies oor wildehonde of jagluiperds gedoen nie. Tog vermoed ons dat die park en wildbestuurgebiede van die belangrikste bevolkings in Zambië huisves en noemenswaardig tot die bevolkingsgetalle van die spesies kan bydra,” sê mnr. Lines.
In die bewaringsprojek beoog die betrokke partye om ’n behoorlike grondlynstudie saam te stel oor die bevolkingstatus en dinamika van die twee spesies, bedreigings vir die spesies se bewaring te identifiseer en ’n kommunikasielyn met die omliggende mensebevolkings te bou. Oor die langtermyn word beoog om die data te gebruik om bestuursbeplanning te doen en die gemeenskappe op te voed oor omgewingsbewaring, anti-wildstropery en gespesialiseerde toerisme om die waarde van die spesies te verhoog.
Die wegspringkoste van die projek is ’n geskatte US$43 000. Dit sluit voertuie en vervoerkoste, veldbenodigdhede, navorsingtoerusting, administratiewe en lewensuitgawes, lone, versekering en permitte in.
|