Klip vir klip – die bou van Spreetshoogtepas

DIE meeste dinge in die lewe begin klein en ontstaan meestal vir praktiese doeleindes. Elke ontwikkeling, elke reis, begin stap vir stap, groot bome groei vanuit ʼn klein saadjie en groot pogings begin gewoonlik met basiese beginsels. En dan is daar dié wat voluit hardloop terwyl ander net aanhou droom. Nicolaas Andries Rymert Spreeth het twee drome gehad. Hy wou ʼn beter pad hê om sy voorrade van heel bo op die berg te gaan haal, asook dat almal die asemrowende uitsig oor die Namib kan geniet. Hy het albei drome ʼn werklikheid gemaak.

Nicolaas Spreeth word op 10 Augustus 1904 in Suid-Afrika gebore en word aan die Weskus groot. As ʼn jong man trek hy Namibië toe en werk as voorman op ʼn plaas in die suide van die land. Hy trou met Anna Louisa Blaauw en as gevolg van sy liefde vir die land besluit hy om te bly. Hy koop die plaas Ubib, aan die onderkant waar die Spreetshoogtepas vandag is, en begin met bokke en karakoelskape boer. Hy is ʼn trotse boer en baie lief vir sy plaas, maar om aan die voet van ʼn berg te woon, het sy uitdagings gehad.

Goedere was met ʼn bus heel bo op die berg by die bushalte op die plaas Namibgrens afgelewer. Sonder ʼn bestaande pad moes sy donkies op sebrapaadjies hul weg boontoe vind en die voorrade al die pad af te dra, ʼn harde en vermoeiende taak vir mens en dier. Die Remhoogte-pas was al gebou, maar om dié te gebruik, was ʼn lang ompad en het ʼn paar dae geduur. Maar Spreeth het ʼn plan gehad. Met elke tog wat die donkies boontoe geneem het, het hy die pad met wit kwartsiet klippe uitgepak. Van onder kon sy familie duidelik die wit lyn tot heel bo sien. Sonder enige spesifieke opleiding begin Spreeth gedurende die oorlogsjare met niks meer as dinamiet en handearbeid nie om die pad te bou. In daardie jare was motors nog nie besonder sterk nie en dus besluit hy om by die steilste gedeeltes net langs die pad ʼn reguit stuk pad te bou, sodat motors momentum en spoed kon opbou. Al is nog net die ruïnes van die oorspronklike plaashuis vandag te sien, is die Spreetshoogtepas steeds die steilste en hoogste pas in Namibië. Dit gee reisigers die moontlikheid om deur die bergagtige gebied vanaf Rehoboth te ry en word gesien as die poort van die Namib met ʼn asemrowende uitsig. Met ʼn gradiënt van 1:4,5-1:6 kan die pas nie met motors met ʼn sleepwa, woonwa of met swaar voertuie aangedurf word nie. Bo aangekom kan bestuurders die oorverhitte komponente van die motor ruik soos die voertuig met moeite na bo of af gesukkel het.

Daar word ook kort-kort gemaan om versigtig en stadig te ry. In 2004 het die pas twee lewens geëis toe ʼn toergids met die afrit, weens die gewig van die sleepwa, beheer oor die Toyota Land Cruiser verloor en die voertuig gerol het. Hy het vroeg die oggend ʼn Hollandse familie by Windhoek se lughawe gaan haal en was op pad na Sossusvlei.

Teen die einde van hulle eerste vakansiedag het die gids en die pa van die familie hul lewens verloor en drie ander familielede is vir noodbehandeling na ʼn hospitaal in Windhoek geneem. Dié hartseer gebeurtenis het mens daaraan laat dink dat al die indrukwekkende passe in die wêreld êrens ʼn tragiese storie het om te vertel en die nodige respek altyd behoue moet bly. Spreetshoogte bied vir sy besoekers ʼn onoortreflike uitsig oor die wydte van die Namibwoestyn met ʼn uitkykpunt om die stilte en oneindige landskap te waardeer, ʼn bron van groot trots en tevredenheid vir Nicolaas Spreeth. Hy verkoop Ubib aan ?n meneer Knipe, wat dit tot vandag nog besit, en trek saam met sy familie verder binneland toe waar hy ʼn plaas suid van Okakarara koop. Daar is geen twyfel dat hulle die plaas aan die voet van die Spreetshoogte-pas en die geskiedenis wat hulle daar geskep het, steeds mis nie. ʼn Gesegde van die familie lei: ?Jy kan die Namib se sand uit jou skoene skud, maar in jou hart sal dit vir altyd bly.?