GERUGTE dat natuurbewaring warm op die spoor is van nog ’n verdwaalde buffel in die omgewing van Otjituuo in die Otjozondjupastreek, is laat gister deur die adjunkhoof van dieresiektebeheer in die direktoraat Veeartsenydienste, dr. John Shoopala, ontken.
“Ons fynkam die gebied om seker te maak daar is nie nog buffels nie, ja. Maar dit is nie waar dat daar definitief nog ’n buffel of buffels is nie,” het hy by navraag gesê.
Shoopala sê omdat buffelspore baie soos beesspore lyk en dit moeilik is om ’n onderskeid te tref, moet sy direktoraat en dié van Wildlewebestuur in die Ministerie van die Omgewing en Toerisme seker maak die buffelkoei wat Donderdag in die omgewing opgemerk en doodgeskiet is, het alleen beweeg. “Ons kan nie uit die spore wys word of daar nog buffels is nie.”
Intussen wys die uitslag van bloedtoetse dat die buffelkoei wat geskiet is, nie ’n draer van die bek-en-klou-seervirus was nie. Die vermoede bestaan dat sy van die Waterberg Platopark afkomstig is.
Die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou het Vrydag as voorsorgmaatreël ’n bewegingsverbod op talle kommunale en kommersiële plase in die Otjozondjupa- en Omaheke-streek ingestel, wat beteken geen diere met gesplete hoewe mag hierdie plase verlaat nie.
’n Beroep is op boere in die voormalige Hereroland en die aangrensende boerderygebiede gedoen om aan die kwarantynmaatreëls gehoor te gee en geduld aan die dag te lê.
Hulle is ook versoek om vir nog buffels in die gebied op die uitkyk te wees.