
Amelia Ball se foto wat op die bottels blatjang pryk wat deur haar nasaat, Desmond Ball en sy vrou, Diane, gemaak word.
BLATJANG, in Afrikaans ook bekend as atjar hoewel die woord nie algemeen gebruik word nie, is al ingeburger en net so deel van Suider-Afrikaanse disse soos biltong, boerewors, beskuit en rooibostee. Dit word met bobotie, kerrie en dik snye kaas op ’n toebroodjie geëet en is in die huis ewe tuis soos Marmite en grondboontjiebotter. In suidelike Afrika word dit vanselfsprekend aanvaar, maar emigrante smag daarna en doen baie moeite om dit in die hande te kry, bloot om hul maaltye af te rond en ’n bietjie van hul vaderland nader tuis te bring.
“Chatni” se oorsprong lê in Indië, afgelei van die Sanskrit-woord wat verwys na kruiemiddels wat tydens die hoofmaal saam met die kos genuttig word. Dit bestaan gewoonlik uit sout, brandrissies, tamaryn (tamarind), koljanderblare en tamaties wat vars gepluk word of andersins ingelê is. Hierdie smaakmiddel toon egter baie min ooreenkoms met die soet blatjang waaraan ons gewoond is wat moontlik ontstaan het weens ’n vermenging van die verskillende tipes blatjang wat die suidpunt van Afrika bereik het.

Sarah Ball née Adkins, wat haar legendariese blatjang in die helfte van die neëntiende eeu begin maak het.
Blatjang het in die 17de eeu sy verskyning in Europa gemaak en in die 19de eeu was verskeie handelsmerke spesifiek vir die Europese mark geproduseer. Daardie blatjang was gekook en het vrugte, suiker en asyn as bestanddele bevat. Dit word vermoed dat die woord blatjang en “die sous” afkomstig is van die Kaapse Maleiers wat as slawe deur die Nederlandse heersers na suidelike Afrika gebring was. Deur die eeue het dit dus deel van Suider-Afrika se kos en kultuur geword.
Selfdienwinkels se rakke is gepak met verskeie soorte blatjang onder verskillende handelsname. Een van die gunstelinge is sekerlik “Mrs. Ball’s” in die agtkantige bottel met die embleem van ’n moederfiguur wat op die deksel verskyn. Hierdie blatjang wat deur die Adkins-familie begin is, het ’n baie interessante geskiedenis.
Sarah Adkins het in die middel van die 19de eeu uit Kanada na Afrika geëmigreer waar sy in 1852 as 16-jarige met ’n Engelsman getrou het. Die paartjie het hulle in die Oos-Kaap gevestig waar hulle ’n handelshuis bedryf het. Toe sake nie so goed verloop nie, het Sarah ’n tuisnywerheid begin deur blatjang te maak volgens die resep van haar ma, ’n resep wat sy na Afrika saamgebring het. Tussendeur het sy tyd ingeruim om steeds na haar 11 kinders om te sien.
Sarah het groot inisiatief aan die dag gelê in ’n tydperk toe die vrou se plek in die kombuis was. Sy het spesiale bottels laat maak wat haar naam vertoon het. Haar vyfde kind, Amy ofte wel Amelia Alice Elizabeth, het in haar ma se voetspore gevolg en voortgegaan met die vervaardiging van blatjang. Sodoende het sy ook die eienskap van formidabele vroue in die familie voortgesit. Amy is later met Herbert Ball getroud en hulle het na die Transvaal getrek waar hy by die spoorweë gewerk het en hulle hul sewe kinders grootgemaak het. Haar blatjang, Mrs Ball’s, sou eendag nog ’n huishoudelike woord word.
Na Herbert se aftrede in 1922 het hulle na die Kaap verhuis. Amy het ’n tuisnywerheid met blatjang daar begin wat op die beproefde Adkins-resep geskoei was. Herbert het die bottels saam met hom op die trein na Kaapstad geneem waar dit verkoop was. Na sy afsterwe in 1935 het Amy na Vishoek getrek waar sy die huis se buitegeboue ingerig het om haar blatjang daar te produseer. Soos haar onderneming groter geword het, het haar seuns en kleinseuns aangesluit en die fabriek het uiteindelik na Retreat verskuif. Die produksieproses was met die hand uitgevoer en die etikette op die bottels het die woord “tuisgemaak” bevat. Dit het ook ’n uittreksel uit C. Louis Leipoldt se mediese joernaal bevat waarin hy die deugde van blatjang tydens ’n hersteltydperk na siekte asook as ’n bymiddel vir sop en bredies besing het.
Amy is in 1962 oorlede en haar deel van die onderneming is aan haar seuns bemaak. Etlike jare later het hulle besluit om die onderneming aan Brooke Bond Oxo te verkoop wat later by Unilever geïnkorporeer is.
Nog is het einde niet. Amy se agterkleinseun, Desmond Ball, het grootgeword in die blatjangtradisie en het gedurende sy skoolvakansies proppe op bottels gedraai in ’n fabriek wat met die skerp geure van uie, asyn en vrugte deurdrenk was.
Hy onthou ook nog sy oumagrootjie wat oor die see gestaar het met ’n sjaal oor haar skouers gedrapeer en ’n swart satynbandjie om haar nek.
Desmond, ’n visterman, en sy vrou Diane het vyf jaar gelede begin om blatjang in die buitegebou by hul huis te maak. Dit word op verskeie afsetpunte en markte in die Kaapse skiereiland verkoop en het ’n ander smaak en tekstuur as die ander bekende produk. Hulle voeg geen verdikkers, kleurstowwe of preserveermiddels by hul blatjang nie, aangesien hulle slegs droë vrugte gebruik wat nie met swaeldiokside behandel word wanneer dit gedroog word nie.
Hulle kan dus met trots die woord “tuisgemaak” asook ’n foto van oumagrootjie Amy met die swart satynbandjie om haar nek op die bottels aanbring wat hulle uit eerbied vir ’n pioniervrou, Amelia’s Chutney noem.
Ontleen aan:
http://sesquiotic.wordpress.com/2011/04/22/blatjang
http://en.wikipedia.org/wiki/Chutney
Onderhoud met Desmond en Diane Ball