27.08.2010 Amok toe Aus deurloop onder vloedGondwana Geskiedenis - #3’n STORIE van hartseer en verdriet het op Woensdag 3 Maart 1948 op Aus afgespeel toe ’n wolkbreuk sowat 60 km noord van die dorpie die gewone rustige gang van die gemeenskap eensklaps versteur het. Die vloedwater wat in die droë rivier verby gebruis het, het mense meegesleur, persoonlike besittings verwoes en infrastruktuur laat tuimel. Vervolgens ’n vertaling uit die Windhoek Advertiser van daardie jaar.
 Aus in vergange jare. Die rivier wat oor sy walle gebars het in 1948 lê net langs die treinspoor.
“Ná ses lang jare van droogte het dié eersterangse wolkbreuk tussen die Ausnek en die plaas Kubub van mnr. August Lubowski uitgebreek en sowat 40 mm (4,5 duim) reën is in 40 minute gemeet. Die skielike bui reën was egter so sterk dat die sogenaamde spruit wat deur die dorpie loop, skielik in ’n bruisende watermassa verander het en tussen agt en tien voet in diepte gewissel het.
“Kort voor die vloed is ’n sement- en draadheining by die Rooi Kruis-stasie, sowat ’n myl voor Aus, ten koste van £150 opgerig. Die vloedwater het die splinternuwe heining weggevee en die eienaar, mnr. Izko van Weissenborn, is met ’n nuwe rivier voor sy gebou gelaat.
“Die kampong vir swart spoorwegwerkers wat in die rivier (wat nooit loop nie) opgeslaan is, het die ergste onder die vloedwaters deurgeloop en vir groot drama gesorg. ’n Vrou en haar kind het in hulle huis byna in die water vergaan.
“Die vrou was tot by haar skouers in die water. Die stasievoorman, ene mnr. Human, het die vrou se pleidooi gehoor en ingeduik om hulle te red. Hy het eers die kind tot op droë grond gebring en daarna vir die vrou teruggegaan. Die vrou was egter so angsbevange dat sy haar redder se werk baie moeilik gemaak het en op die einde moes omstanders vir mnr. Human ook uit die rivier red.”
Nóg ’n heldedaad wat volgens die Windhoek Advertiser nie ongesiens verbygegaan het nie, was dié van die bestuurder van die Aus Trading Store, mnr. Mathew Druker, die jong seun van mnr. Jack Druker van Lüderitz. Hy het al die swart slagoffers van die vloed bygestaan deur gratis rantsoene uit te deel. Die werkers het al hulle besittings verloor en een werker se totale spaargeld van £25 was verlore.
“’n Amperse tragedie het ook afgespeel toe ’n boer, mnr. Reinhold May van Landsberg in die Lüderitz-distrik, die rivier wou oorsteek. Hy was op pad vanaf Lüderitz na sy plaas ná hy vir sowat drie weke op die kusdorpie moes wag dat sy vragmotor reggemaak word. Hy het by die rivier gekom, wat taamlik vinnig op ’n diepte van tussen twee en drie voet geloop het en hy het besluit om dit oor te steek.
“Die vragmotor het egter in die middel van die rivier vasgesit en hy kon nie verder beweeg nie. Op daardie oomblik het ’n watermuur van sowat ses voet hoog aangekom. Mnr. May is op die laaste oomblik gered, maar die vragmotor het sowat 100 treë ver in die rivier afgespoel. Dit is die volgende dag onder drie voet modder uitgegrawe, maar alles wat op die vragmotor was, is in die vloed daarmee heen.
“Die vloed het ook groot skade aan die spoorweginfrastruktuur veroorsaak, maar te danke aan die vinnige optrede van die spoorweg owerhede, is die skade binne ’n week herstel en net betyds om inwoners van Lüderitz met broodnodige verbruikersitems te verskaf.
“Die vloedwater wat deur Aus gebars het, het spoelslote agtergelaat. Inwoners se tuine is ook verwoes deur groot haelkorrels wat met die storm gepaard gegaan het en baie huisdiere het vergaan.”
|