4.09.2009 Telecom laat sak belpryse
BELLERS in Namibië kan hulself behalwe vir ander, voortgesette prysbonusse danksy al groter mededinging in die plaaslike telekommunikasiesektor, ook begin voorberei op die vooruitsig van goedkoper oproepe na die buiteland.
Mnr. David Imbili, voorsitter van die Namibiese Kommunikasiekommissie (NCC), het gister teenoor Republikein bevestig dat die kommissie op die punt staan om lisensies vir die oprigting van hul eie internasionale poorte vir stemverkeer aan MTC en Cell One toe te staan nadat Telecom vir jare ’n regsmonopolie op die infrastruktuur gehad het.
Telecom se aankondiging vandeesweek van aansienlike prysverlagings op binnelandse oproepe vanaf 1 Oktober is verdere goeie nuus vir verbruikers. Sommige tariewe sal met tot 29 persent sak om by ’n eenvormige prys van N$1,49 per minuut vir alle oproepe na selfoonnetwerke uit te kom.
Al het die staatsmaatskappy nie verlagings in sy internasionale tariewe aangekondig nie, sê dr. Christoph Stork, bekende telkomkenner, dat Telecom in die algemeen besig is om homself voor te berei om aansienlik strawwer kompetisie die hoof te bied.
MTC en Cell One se aansoeke om toestemming om hul eie infrastruktuur te begin oprig vir stemdienste na die buiteland, is op 14 Augustus reeds in die Staatskoerant gepubliseer. Volgens mnr. Imbili is hy nie bewus dat enige besware binne die toegelate 14 dae aangeteken is nie.
Volgens bronne in die bedryf is die toestaan van hierdie lisensies feitlik ’n uitgemaakte saak, aangesien dit deel was van die kompromie waaronder Telecom se mobiele foondiens, Switch, geografies ingeperk sou word tot die nuwe wetsontwerp oor kommunikasie deur die parlement aanvaar kon word.
Hoewel die wet nog nie goedgekeur is nie, is die beperkinge op Switch reeds vroeër vanjaar opgehef. Selfoonoperateurs is sover verstaan word die versekering gegee dat hulle hul eie internasionale stemlyne kan kry sodra gebruikers van Switch weer landwyd vanaf enige dorp kan bel.
Volgens dr. Stork, betrokke by Research ICT Africa, behoort alle diensverskaffers sodra die lisensies toegestaan is, pryse na die buiteland te begin hersien. T
elecom se prysverlagings, sê hy, is dus net ’n indirekte reaksie op die laer, eenvormige interkonneksietariewe tussen diensverskaffers wat die NCC aan die begin van Julie aangekondig het.
Sedert 1 Julie staan die tariewe op 60 sent, met verdere verlagings na 50 sent (Januarie 2010), 40 sent (Julie 2010) en uiteindelik 30 sent (Januarie 2011) reeds op die prysrooster uitgestip. Hierdie omwenteling – ’n eerste vir Afrika – is reeds wyd geloof, met groot druk op die Suid-Afrikaanse belmark om die voorbeeld te volg.
Telecom se jongste prysverlagings (aansluitings- en huurkoste uitgesluit) maak oproepe vanaf landlyne en Switch na mobiele mededingers effektief ewe goedkoop as Cell One se pryse vir bellers op sy eie netwerk en MTC se piektyd-tarief vir kontrakkliënte. Sekere tye van die dag bly MTC aansienlik duurder as enige van sy mededingers.
Mnr. Albertus Aochamub, segsman vir die belreus, se reaksie op die vraag wanneer hulle pryse gaan begin sny, was gister dat MTC nie sommer enige “goedkoop operateur” is nie, maar ’n “leier” wat “waarde” voorop stel eerder as om ander se tariewespel te volg. MTC, het hy benadruk, sal op sy eie terme prysverlagings oorweeg.
“Ons sal ons markaandeel selfsugtig beskerm,” het mnr. Aochamub bygevoeg. Oor die vooruitsig van ’n internasionale stemlisensie is MTC volgens mnr. Aochamub uiters opgewonde.
Die feit dat die laaste element van ’n statutêre monopolie wat ’n oper en vryer mark onderdruk eersdaags in die snippermandjie gaan beland, is volgens mnr. Aochamub ’n reuse-tree vooruit vir almal in die land.
Mnr. Frans Ndoroma, besturende direkteur van Telecom, het uit Indië aan Republikein gesê dat dit nog altyd vir sy maatskappy belangrik was om jaarliks nuwe voordele soos laer interkonneksietariewe en interne kostebesparings weens groter doeltreffendheid met kliënte te deel.
Volgens hom het Telecom se nuutste prysverlagings egter niks te make met MTC en Cell One se nuwe lisensieaansoeke nie. Aangesien internasionale belpryse verlede jaar aansienlik verlaag is, is verdere afwaartse aanpassings op die front volgens mnr. Ndoroma in belang van ’n “gebalanseerde” prysmandjie nie vanjaar oorweeg nie.
|