24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

26.02.2010

Teensin by stembus

© Dani Booysen
Swapo-ondersteuners vroeg gisteroggend buite ’n sjebeen in Okahandja se Vyfrandkamp. Hulle het heelnag deur fees gevier.

’n HELE 62 persent van kiesers in die Okahandja-kiesafdeling het ná ’n verbete opsweepveldtog van weke Woensdag verkies om eerder van die stembus weg te bly.

Met nog ’n nasionale verkiesing op hande laat in 2010, flikker duidelike gevaarligte vir die regerende party buite sy tradisionele magsbasisse.

Inwoners van Okahandja se sinkhuis-buitewyke was saam met die regeringsgesinde weermag en staatsdiens die geharde Swapo-bastionne wat ondanks die teleurstellende bywoningsyfer van 38% ’n oorwinning vir mnr. Steve “Biko” Booys in die tussenverkiesing vir ’n vakante setel op Otjozondjupa se streekraad verseker het.

Selfs by die stempunt in Nau- Aib, op omliggende plase en by die dorp se ouetehuise was dit ’n opdraande stryd vir die Swapoman. Op die administratiewe front het die Verkiesingskommissie (ECN) ’n veel blinker vertoning gelewer as drie maande gelede, ondanks bekommernis oor hoeveel mense weens ’n wetlike skuiwergat dalk bloot vir die verkiesing na die Tuindorp getrek het.

Al uitstaande kwessie is die ontheffing van die toesighoudende beampte van ’n mobiele span van sy pligte ongeveer halfpad deur die verkiesing. Met die ondersoek was daar ná drie dae se min slaap gister bitter min haas.

Teenoor Swapo se effentjies sterker vertoning as in November verlede jaar en 2004 se streekraadverkiesing (die party het 60,1% van geldige stemme getrek teenoor 59,8% en 59,5%) kon die Rally for Democracy and Progress (RDP) met die steun van ses vriendskaplike opposisiepartye net 187 meer stemme trek as laat verlede jaar. Mense by vier van 16 stembusse – in Veddersdal, op Hiradaup, by die Sneyrivier Game Lodge, Rudenau, Ozumbozumase, Omatako Ranch, Huis Sonder Sorge en die plotte noordoos van die dorp – het egter aan die RDP-kandidaat, me. Christophine “Kito” Paulus, ’n volstrekte meerderheid gegee.

By ses busse – Veddersdal, die Laerskool Aurora in Nau-Aib, Hiradaup, Sneyrivier, Rudenau, die noordoostelike plotte, Sonder Sorge, die plotte wes van die dorp en die Immanuel-ouetehuis – het die RDP-kandidaat saam met mnr. Ben Katamila, ’n onafhanklike kandidaat wat uit Swapo weggebreek het, en Swanu se mnr. Ehrenfried Muroua meer steun as mnr. Booys gehad.

Die Swapo-kandidaat het net wegholoorwinnings behaal in die Vyfrandkamp, by die weermagbasis op die dorp, in Oshetu (die plakkersbuurt agter Nau-Aib), by die polisieselle, die staatshospitaal, op Vastrap en Madi.

By die dorpsaal, op Osona se plotte, Gross Barmen, Felseneck, die Oropoko Lodge, Matador, Okakango, Okazize, Ozombanda en die Rock Lodge was dit ’n kop-aan-kop stryd.

Teenoor November se verskil van 1 571 stemme tussen Swapo en die totale opposisie het die gaping vernou na 1 063 – veel nader aan die 2004-streekverkiesing se verskil van 856 stemme. Swanu het presies ewe veel stemme as November se 51 gekry.

Hoewel finale uitslae reeds omstreeks 03:30 geverifieer was, is die amptelike aankondiging eers na 09:00 gedoen.

Die verkiesingsdirekteur, mnr. Moses Ndjarakana, wat die afgelope Vrydag eers na lang bespiegeling in sy amp herstel is, het die polisie en ander rolspelers bedank vir “uitstekende werk.”

Mnr. Edward Hauanga, die hoofkiesbeampte, het die wegwys van enkele kiesers wat uitgevang is dat hulle miskien twee keer probeer stem as ’n bewys beskryf dat bestaande beheermaatreëls hul werk doen.

Die ECN kon nie statistieke van sulke voorvalle gee nie.

“Baie beter,” het mnr. Hafeni Nghinamwaami, die RDP se verkiesingsbeampte, oor die ECN se vertoning gesê. Hy voorsien nie dat die party enige van hul klagtes voor en tydens die verkiesing verder gaan neem nie.

Die korrektheid van die kiesersrol was volgens mnr. Nghinamwaami die grootste kopseer. Hy dink die ongeloofwaardige bykomende registrasie van sowat 800 kiesers op ’n klein plekke soos Okahandja net enkele maande na ’n nasionale verkiesing het dalk ’n deurslaggewende invloed gehad.

Die RDP is ten gunste van strenger eise oor hoe lank iemand in ’n kiesafdeling moet woon voor hulle aan ’n streekverkiesing mag deelneem.

Woensdag se breë bederfstem van 0,6% was laer as November se 0,9% en aansienlik minder as enige jaar sedert 1989. Mnr. Booys sal na verwagting vandag reeds op Otjiwarongo ingesweer word.
Die amptelike uitslag
 
Steve “Biko” Booys (Swapo) 3 153
Christopine “Kito” Paulus (RDP) 1 559
Ben Katamila (onafhanklik) 480
Ehrenfried Muroua (Swanu) 51
Verwerpte stemme 32
Bedorwe stemme 2
Bederfpersentasie 0,6%
Geregistreerde kiesers 13 888
Stempersentasie 38%