SCORE CARD:


20 YEARS OF INDEPENDENCE

Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Okahandja stem


Lesers 2010


Fotobeelde

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

01.03.10

Drywer skiet homself ná vragongeluk in woestyn

03.03.10

Stem Namibies

02.03.10

Tiger Reef bly in branders se visier

28.02.10

Ruiterstandbeeld staan weer trots

01.03.10

Beesdief steel ’n tweede keer

2.07.2009

Tariefskokke tree in werking


DIE nuwe, verhoogde munisipale tariewe vir Windhoek het gister reeds in werking getree ondanks pogings op ministeriële vlak om Namibiërs teen uitbuiting te beskerm.

Dit het gister vir die eerste keer aan die lig gekom dat die munisipaliteit van Windhoek meer as vier maande gelede reeds gewaarsku is om nie buitensporige tarief- en dienste-aanpassings in te stel nie.

Dié pleidooie het blykbaar op dowe ore geval en die nuwe munisipale begroting vir die hoofstad wat voorsiening maak vir opwaartse aanpassings vir alle dienste, is Dinsdag deur die stadsraad goedgekeur.

Die amptelike begroting wat deur die voorsitter van die stadsraad se bestuurskomitee, me. Elaine Trepper, ter tafel gelê is, maak voorsiening vir die verhoging van elektrisiteitstariewe van 14,8% vir basies en verbruik, ’n 13,5% styging in die prys van koopkrag, ’n styging van tien persent in mu-nisipale belastings, ’n verhoging van tien persent vir basiese watertarief en agt persent in die koste van waterverbruik.

Die tariewe vir riooldienste verhoog met tien persent en vullisverwydering met vyf persent. In haar begrotingsrede voor die stadsraad het me. Trepper daarop gewys dat ’n gemiddelde middelinkomste huishouding in die hoofstad die swaarste getref gaan word deur die verhogings met ’n algemene styging van 12,04% in hul munisipale rekeninge.

’n Lae-inkomste huishouding betaal sedert gister alreeds 11,85% meer vir hul munisipale dienste en ’n hoë-inkomste huishouding, 11,58%.

Volgens me. Trepper kom die totale begroting vir 1009/2010 op N$1,8 miljard te staan wat ’n kapitale begroting van N$313 miljoen insluit.

Onder die begrotingstema “Deurstaan die storm op ’n plaaslike vlak” het me. Trepper gesê dit was ’n uiters moeilike taak om ’n gebalanseerde begroting voor die raad te laat dien op ’n tydstip waarop die wêreld deur ’n moeilike ekonomiese krisis gaan wat nie vir Namibië en die stad van Windhoek in die besonder gespaar het nie.

Volgens haar is die begroting egter opgestel met inagneming van die munisipaliteit se hoofdoelstelling om die gehalte van inwoners se lewens te verbeter.

Die begrotingsprioriteit is vanjaar weer om bestaande infrastruktuur in stand te hou “sodat inwoners kan voortgaan om broodnodige dienste te ontvang,” volgens me. Trepper.

Die kapitale begroting gaan volgens haar voorsiening maak vir projekte wat dienslewering aan inwoners gaan verbeter. Die N$313 miljoen in die kapitale begroting maak voorsiening vir verskeie kontrakte vir bouwerk en verwante nywerhede om werkgeleenthede in die stad te handhaaf en nuwe werkgeleenthede gaan geskep word deur die toekenning van kontrakte vir dienste soos die skoonmaak van die stad.

Kleinskaal-kontrakteurs gaan ook aangestel word vir die teer van paaie in die noordwestelike voorstede en die beskikbaarstelling van gedienste erwe in die stad sal verseker dat die getal werkgeleenthede in die finansiële jaar gehandhaaf word.

Me. Trepper het ook daarop gewys dat die operasionele en kapitale begrotings van die munisipaliteit verminder is om sodoende te verseker dat “net ’n minimale tariefverhoging” deurgegee word aan die eindverbruikers.

In die begroting wat aanvaar is, word egter voorsiening gemaak vir die tariefaanpassings wat wissel van 5% tot bykans 15%.

Dié aanpassings is gemaak ondanks die feit dat die permanente sekretaris van Streeks- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, mnr. Erastus Negonga, op 17 Februarie ’n brief aan alle munisipaliteite, dorpsrade en gemeenskapsrade gestuur het oor die nuwe begrotings.

In die brief waarsku mnr. Negonga die munisipale owerhede in die land om hul tariefaanpassings te beheer en hy lê riglyne neer vir sodanige aanpassings. “Jul dienstariewe moet verhoog word in pas met die koste van die diensverskaffers om ’n kostegrens te handhaaf,” het mnr. Negonga geskryf.

Vir watertariewe het hy voorgestel dat die verhoging tussen 5 en 8 persent moet wees en verhoogde elektrisiteitstariewe moet deurgegee word nadat die Elektrisiteitsbeheerraad die nuwe tariewe goedgekeur het.

“Ander tariewe behoort te styg om te voldoen aan inflasionêre koste en vyf persent behoort gebruik te word as ’n riglyn,” het mnr. Negonga gesê.