8.02.2010 Talle Namibiërs gebruik verbode Simply Slim
HONDERDE pakkies van die verbode verslankingsmiddel Simply Slim is sedert einde Augustus verlede deur middel van subagente in Namibië verkoop.
Ten minste ses plaaslike agente word gelys in ’n advertensie wat vroeër in Republikein verskyn het en die produk is van Mariental in die Suide tot by Grootfontein in die Noorde versprei.
’n Maand se voorraad kos ’n gebruiker sowat N$590. Die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) het Vrydag ’n verbod op die verspreiding daarvan geplaas en gelas dat Simply Slim sy produk onmiddellik van winkelrakke verwyder.
Dit geld ook verspreiding na die buurlande. Die plaaslike agente wou egter nie die verbod bespreek nie, “omdat ons opdrag het van Simply Slim om nie met die media te praat nie”.
Die MBR het ná toetse op die produk besluit om Simply Slim te verbied omdat sekere besendings sibutramien bevat het.
Dit is die aktiewe bestanddeel van ’n skedule 5-voorskrifverslankingsmiddel, Reductil, wat die voorkoms van hartaanvalle en beroertes kan verhoog by gebruikers met onderliggende hartprobleme en hoëbloeddruk.
Die MBR het talle klagtes oor naarheid, kopseer, hartkloppings en gemoedsversteurings van mense ontvang wat Simply Slim gebruik het.
Mnr. Buys Steenkamp, eienaar van die Tsumeb Apteek en bekende kampvegter vir ’n gesonde leefstyl, sê hy het eers nadat die bom oor Simply Slim gebars het klagtes ontvang van mense wat newe-effekte ervaar het.
Hy sê die Tsumeb Apteek het op versoek van kliënte “’n paar pakkies in voorraad gehou”.
Mnr. Steenkamp sê ’n besending van 20 pakkies wat via NamPost by hom afgelewer moes word, het verlore geraak.
“Noudat die bom gebars het, besef ek dit was ’n bedekte seën.” Simply Slim word bemark as ’n “natuurlike middel” wat mense help om maer te word sonder dat hulle ’n spesiale eet- en oefenprogram hoef te volg.
Die MBR het gesê die middel sinefrien in bitterlemoen, wat Simply Slim beweer is in sy produk, is ook ’n skedule 5-middel.
Van die plaaslike agente met wie Republikein die naweek gepraat het, sê hulle het net positiewe terugvoer van gebruikers ontvang.
“Dit is hartseer dat dit verbied is, want dit is so ’n goeie produk,” was een se kommentaar. Die Namibiese Reguleringsraad vir Medisyne (NMRC) was Vrydag onbewus van dié verbod asook die storm wat rondom die verkope van Simply Slim losgebars het.
Volgens mnr. Lazarus Indongo, hoof van registrasie by die NMRC, is Simply Slim nie in Namibië as ’n medisyne geregistreer nie.
Op ’n vraag of hy bewus is daarvan dat dit wel hier versprei word, het hy gesê hy het nie eers geweet van die bestaan van só ’n produk nie.
Intussen wou me. Elise Scholtz van Heidelberg in Gauteng, wat die regte besit om Simply Slim aan Namibië te lewer, ook nie die verbod bespreek nie.
“Ons het streng opdrag gekry om alle navrae na die hoofkantoor te verwys.”
Mnr. Lance Rothchild, Simply Slim se openbare skakelbeampte in Suid-Afrika, kon nie telefonies bereik word nie.
|