24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

12.11.2009

Swapo was nie gedwing, sê Penny

SWAPO se sekretaris-generaal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, verwerp die uitsprake van die Rally for Democracy and Progress (RDP) dat die party Swapo gedwing het om die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se beginsels en riglyne vir demokratiese verkiesings in die streek te implementeer.

Die Regering het volgens haar die beginsels in Augustus 2004 tydens die spitsberaad in Mauritius onderteken.

Voorts kom Swapo die verpligtinge van die protokol na, gevolglik is die kieswet hierdie jaar gewysig. Me. Iivula-Ithana sê dit is nie nodig vir die RDP om die Regering aan sy streek- en internasionale verantwoordelikhede te herinner nie.

“Die RDP is slegs twee jaar gelede onder ’n sluier van geheimhouding en ontkenning gevorm. Wat kan ’n mens van hulle verwag behalwe politieke hallusinasies?” het sy gesê.

Die president van die RDP, mnr. Hidipo Hamutenya, het in sy reaksie gesê me. Iivula-Ithana se verklaring is vol valshede.

“Ek het nooit gesê die RDP het dit alleen gedoen nie. Dit was ’n koalisie van opposisiemagte, burgerlike samelewing en die kerke wat sedert 2007 druk uitoefen op die Regering om die kieswet te wysig sodat dit met die SADC-protokol strook. Die wet is uiteindelik gewysig en nou sal stembusse nie meer van stempunte verwyder en na ander plekke vir die tel van stemme vervoer word nie.

“Die Regering wou nie die SADCprotokol, wat reeds onderteken is, bekragtig nie. Pres. Hifikepunye Pohamba het tydens sy staatsrede in die parlement ’n beroep op parlementariërs gedoen om die protokol te bekragtig. Voor dit het dit op die tafel van die voormalige minister van Streek en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, die ontslape mnr. John Pandeni, gelê.

“Toe neem Min. Ekandjo die Ministerie oor en hy het sy voete net so gesleep. Dit was onder druk dat die Regering gedwing was om die protokol te bekragtig en toe te pas en die kieswet te verander. Daar is nooit ’n rewolwer teen die Regering se kop gehou nie, dit was bloot openbare druk.

“Die wysiging van die kieswet bring nou mee dat die stembusse nie meer verskuif kan word nie. Dit het altyd die inherente gevaar gehou dat gekul kan word. Dit is juis die rede hoekom Swapo nie gretig was om die protokol te implementeer nie.

“Ons is steeds nie daarvan oortuig dat die speelveld gelyk is nie en sal voortgaan om alles in ons vermoë te doen om dit te bewerkstellig,” het mnr. Hamutenya gesê.

Me. Iivula-Ithana het ook verwys na die kwessie van gratis lugtyd wat politieke partye oor die eter van die NBC kry. Sy hou vol dit word kragtens die uitsaaiwet toegeken.

“Die wet is opgestel onder die toesig van die destydse minister van Inligting en Uitsaaiwese, mnr. Hamutenya. Die beweringe wat hy maak van kullery mag met verwysing wees na wat hy in gedagte gehad het toe hy die wet opgestel het. Laat hy die nasie vertel van die beleid wat onderliggend aan die wet is en nie al sy kwaaijongstreke aan Swapo toedig nie. Sommige van ons wat weet hoe listig die voormalige kameraad is, is nie verbaas oor sy vermoë om enige iets te beweer nie,” het me. Iivula-Ithana gesê.

Mnr. Hamutenya sê volgens die SADC-protokol moet alle politieke partye gelyke en gratis lugtyd op die senders van staatsuitsaaiers kry om hul boodskappe tuis te bring en te verduidelik. “Die NBC gee net dekking aan Swapo en hier en daar aan die CoD soos aan mnr. Tsudao Gurirab se vergadering op Usakos.

“Die mense wat nou in diens van die NBC is, word as instumente in die hande van Swapo gebruik om die demokrasie te saboteer deur gratis lugtyd aan politieke partye te weier. Die waarnemende direkteur-generaal en bestuurders is instrumente in ’n ondemokratiese proses.

“Me. Iivula-Ithana se uitlatings dat ek verantwoordelik is vir die uitsaaiwet omdat ek destyds die minister van Inligting en Uitsaaiwese was, wat sê dat ek die wet help skryf het waarin gratis lugtyd op grond van die proporsionele verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering toegeken word, is ook onsin. Daar staan niks daarvan in die wet nie. Dit is mos onlogies dat ’n party wat nie aan die vorige verkiesing deelgeneem het nie en geen setels in die Nasionale Vergadering het nie, geen lugtyd mag kry nie,” het mnr. Hamutenya teruggekap.