TWEE senior ministers is Vrydag ingespan om die Regering en Swapo se standpunt oor politieke geweldpleging te verdedig.
Die Minister van Inligting en Kommunikasietegnologie, mnr. Joël Kaapanda, en die Minister van Presidensiële Aangeleenthede en ook waarnemende Prokureurgeneraal, dr. Albert Kawana, het ten doel gehad om 'n striemende aanval op die leier van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Hidipo Hamutenya, namens die Regering te maak oor "uitlatinge" wat hy glo oor regerings in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) op 'n politieke vergadering gemaak het.
Dit is veral dr. Kawana wat met vraetyd sommer gou sy Regeringsbaadjie vir 'n politieke ene omgeruil het en dit duidelik gestel het dat hy en sy kollega senior genoeg is om ook vir Swapo in te staan.
Hy het gesê Swapo se strewe is dat die verkiesings vry en regverdig moet verloop en daarom het Pres. Hifikepunye Pohamba en ander senior Swapo-leiers by verskeie geleenthede 'n beroep op ondersteuners gedoen om partye toe te laat dat hulle hul boodskappe in vrede kan verkondig.
"Die President het selfs met sy volksrede vrye en regverdige verkiesings beklemtoon, maar nou het ons 'n probleem met ondersteuners van die RDP wat arrogant is en Swapo-lede uittart. Die probleem het ons nooit tevore met ander politieke partye gehad nie. Die houding van die RDP-ondersteuners is te uittartend," het dr. Kawana gesê.
Mnr. Kaapanda het ook die huistot- huis- en kraal-tot-kraal-tegniek van die RDP-lede veroordeel.
"Hulle kan dit doen, maar moet nie ongenooid na huise gaan nie. Dit maak die Swapo-ondersteuners kwaad."
Terselfdertyd het hy erken dat Swapo voor die 1989-verkiesing dieselfde metode gebruik het, maar volgens hom het hulle net na huise en krale van Swapo-ondersteuners gegaan.
Nog 'n probleem wat Swapo met die RDP het, volgens dr. Kawana, is die arrogansie van RDP-lede wat op die NBC se "Open Line"-program inbel.
"Swapo-leiers word sommer name genoem en dit is onaanvaarbaar en maak ons ondersteuners kwaad," het dr. Kawana gesê.