SWAPO en sy presidentkandidaat het oor die naweek ’n groot waarskuwing aan opposisiepartye gerig toe die party meer as 25 000 ondersteuners getrek het na sy laaste twee vergaderings wat onderskeidelik op Walvisbaai en in Windhoek gehou is.
President Hifikepunye Pohamba het wyd en syd verkondig dat Swapo ’n wegholoorwinning in die nasionale- en presidentsverkiesings gaan behaal.
In die hoofstad is die party se verkiesingsboodskap ingelui deur die parlementêre kandidaat, mnr. Piet van der Walt, wat sy party geloof het vir sy beleid van rekonsiliasie wat daartoe gelei het dat die pynlike hoofstuk van die verlede vergeet is.
Met die woorde “Gooi jul gewig agter President Hifikepunye Pohamba en Swapo in” het mnr. Van der Walt veral die onsekerheid rondom die grondkwessie verdryf en die ganse “wit gemeenskap” aangemoedig dat daar geen vrese bestaan vir die toekoms van die grondeienaars nie.
“Ons kan afskaf wat nie kan werk nie en dit vervang met ’n beleid wat voordelig gaan wees vir die verkoper sowel die koper van die grond. Versoening is die grootste besluit wat vir ons en ons land baie goed dien, en ons moet dit oordra aan die huidige en die toekomstige geslagte.
“Vir mense wat bang is vir die toekoms op hul plase wil ek net sê dat julle in die afgelope 19 jaar geen vrees gehad het nie, en waarom dan die skielike vrees. Swapo was al die pad saam met julle en staan steeds vir vrede en stabiliteit in die land.
“Die toekoms van die plaaswerkers beteken die toekoms van die plaaseienaars,” het mnr. Van der Walt gesê.
Volgens hom kan die land se burgers ter eniger tyd rondom een tafel sit en beleid formuleer wat vir die koper sowel die verkoper van die grond voordelig kan wees en dit kan net gebeur deur middel van Swapo se beleid van nasiebou. Dit is volgens hom net deur Swapo dat die koöperatiewe- en hervestigde boere verseker kan word van ’n blink toekoms en ’n aangedrewe groei van die land se ekonomie.
“Dit gaan net deur Swapo wees dat ons klein “wit-, swart- en bruin kindertjies” soos broers en susters in die toekoms met mekaar gaan leef en ’n verskil in hul lewes maak,” het hy gesê.
Alles is nou volgens hom in die hande van die ouers om hande te vat en een te word in die vuis van eenheid om sterker te word as in die verlede.
Hy het voorts daarop gewys dat daar hoop is vir die moedelose en gefrustreerde “wit jeug” in die onafhanklike Namibië en dat Swapo die tuiste en die platform is waar die jeug hul kommer kan bespreek.
“Onthou dat die bemagtiging van die jeug nie op etniese beginsels gebaseer is nie, maar dat dit ’n nasionale beleid is,” het mnr. Van der Walt beklemtoon.
Hy het voorts gesê dat hy nie by Swapo aangesluit het om sy tyd daar te mors nie, maar om ’n daadwerklike verskil te maak, omdat hy lief is vir sy landgenote en sy land.
President Pohamba het die massas op hul voete gehad toe hy herbeklemtoon het dat die Swapo-regering toegewyd is om voort te bou op die suksesse wat hy sedert onafhanklikwording vermag het. Met betrekking tot landbou het hy gesê dat dit die ruggraat van die Namibiese ekonomie is.
“Ons regering gaan dus voort om die sektor te versterk deur middel van voorsiening en uitbreidingsdienste, asook ander vorme van ondersteuning aan die plaasboere.
“Ons geskiedenis dien as die rigtingwyser vir die toekomstige ontwikkeling van ons land. Sedert ons onafhanklik geword het, het die Swapo-party die beleid en programme ingestel met die oog op die ontwikkeling van ons volk. Hoewel ons ’n verdeelde en onderontwikkelde gemeenskap geërf het, het ons ’n beleid aanvaar wat al die inwoners in die land insluit om sodoende transformasie en maatskaplike reg teweeg te bring,” het die President gesê.