2.09.2009 Swapo skei kaf en korrels
SWAPO se sekretaris vir inligting en publisiteit, mnr. Jerry Ekandjo, het gister die eerste skote oor die koppe van senior Swapo-leiers gevuur met ‘n waarskuwing dat menige van hulle nie meer aanstaande jaar in die parlement gaan wees nie.
Volgens hom moet niemand verbaas wees as Swapo se kandidate lys vir die Nasionale Vergadering tot soveel as sestig persent van die kandidate jonger as 35 jaar oud bevat nie en tot vyftig persent van die kandidate vroue is nie. Mnr. Ekandjo het gister op ‘n nuuskonferensie ook aangekondig dat die party se verkiesingsmanifes op Saterdag op ‘n openbare vergadering by die Katutura veeldoelige sportsentrum bekendgestel sal word.
Die kieskollege wat Vrydag begin, word saamgestel deur al die lede van Swapo se Sentrale Komitee, sy lede in die Nasionale Vergadering, vyf afgevaardigdes elk van die Jeugliga, die Raad van Oudstes asook die NUNW en tien van die Vroueraad. Hierbenewens stuur elke streek twee afgevaardigdes van wie een ‘n vrou moet wees.
Die stemmery behoort teen Saterdag voor die aanvang van die openbare vergadering afgehandel te wees. Die stemme sal dan getel word en die uitslae behoort teen Sondag bekend te wees. Mnr. Ekandjo het ook verduidelik dat die name van die tien kandidate wat Pres. Pohamba op die lys kan plaas, ook eers oor die naweek bekendgemaak sal word.
Die name van die genomineerdes sal vanaf die 20ste plek op die lys alternatiewelik met gekose lede se naam op die lys geplaas word. Mnr. Ekandjo het ook gesê dat die omstrede uitlatings van die voormalige staatshoof, mnr. Sam Nujoma, tydens die vorige kieskollege waar hy skel verwysings na imperialiste gemaak het met insinuasies wat verbind was met ‘n naamlys wat gesirkuleer is, reg bewys is.
“Waar is daardie mense vandag? Die stigterpresident was reg. Die kieskollege is inderdaad ‘n sif wat moet verseker dat net getoetste kaders se name op die lys verskyn,” het mnr. Ekandjo gesê. Hy het ook die naam van mnr. Paulus Kapia genoem wat “nooit die party versaak het nie.”
Hy sê Swapo is ‘n voorbeeld vir baie ander politieke partye wat nog nooit kongresse gehou het of kieskolleges gehad het waar lede op die partylys op demokratiese wyse verkies word nie. Hy meen ook dat die kieswet sodanig gewysig behoort te word dat kandidate van partye nie hulself vir die presidentskap verkiesbaar kan stel en terselfdertyd ook boaan die lys name vir lede van die Nasionale Vergadering kan verskyn nie.
|