
Mnr. Jerry Ekandjo
DIE Swapo Party het Dinsdag aangekondig dat 280 mense sedert die begin van Oktober vanjaar by die party aangesluit het.
Die aankondiging is gemaak tydens ’n bekendstellingsgeleentheid waar ’n aantal lede wat van Nudo en Swanu na Swapo oorgeloop het, deur die sekretaris vir inligting en mobilisasie van Swapo, mnr. Jerry Ekandjo, aan ander Swapo-lede bekendgestel is.
Hy is van mening dat die nuwe lede hulle by Swapo aangesluit het omdat hulle verandering verwag en opposisiepartye al swakker word. Mnr. Ekandjo het ook aan die oorlopers die geleentheid gebied om te verduidelik hoekom hulle by Swapo aangesluit het.
Die nuwe lede was dit eens dat hulle glo dat Swapo die antwoord vir politieke stabiliteit en vrede is.
“Hier is te veel partye in ons bestel en daar is steeds mense wat nuwe partye vorm,” het een van die nuwe Swapo-lede gesê.
Hulle is daarvan oortuig dat opposisiepartye nooit sal kan saamstaan en verenig nie en om die rede die politiek in die land nie versterk sal kan word nie. ’n Ander rede wat aangevoer is, is dat opposisiepartye die geld wat deur die Regering aan hulle gegee word, verspil en in hierdie stadium het die partye nie geld om hul verkiesingsveldtogte te voer nie.
Dit word dan van partylede verwag om hand in eie sak te steek om die partye geldelik te help.
“Swapo is hier om te werk en nie om te kla nie en dit is om hierdie rede waarom ons by die party aangesluit het,” het een van die nuwe partylede aan die media gesê.