23.11.2009 Swapo nie weer vir vyf jaar
 Die RDP president, mnr. Hidipo Hamutenya, het ’n heldeontvangs gekry toe hy Saterdagmiddag in Katutura by die RDP-vergadering opgedaag het.
DIE Rally for Democracy and Progress (RDP) is ’n vredeliewende party wat nie ten gunste van konfrontasie is nie en te alle tye ’n hoë vlak van politieke volwassenheid aan die dag sal hê. Ander politieke partye is nie vyande nie, maar politieke opponente.
Die boodskap is Saterdag op die RDP se vergadering in Katutura herhaaldelik deur sprekers aan die skare oorgedra. Met ’n sterk afvaardiging van die Namibiese polisie teenwoordig om seker te maak dat niemand die vergadering in die wiele probeer ry nie, asook waarnemers uit die SADC-streek, die Pan-Afrika parlement en die Namibië Instituut vir Demokrasie (NID) wat ’n wakende oog gehou het, het die vergadering sonder voorval plaasgevind.
Die president van die RDP, mnr. Hidipo Hamutenya, wat ’n heldeontvangs met sy aankoms by die sokkerveld in Katutura gekry het, het gesê die druk wat die RDP in die twee jaar en enkele dae van sy bestaan op Swapo geplaas het, stem die regerende party senuweeagtig. Die enigste wapen wat Swapo nou inspan teen opposisiepartye en hul ondersteuners is vrees.
“Vrees is die wapen van die duiwel, van wanorganisasie en misleiding. Ons sal nie die slagoffers van vrees word nie, maar sal op koers bly. Ons het ons doelwitte en ons het visie en rigting. Ons aandag sal nie afgelei word van dit wat ons van die staanspoor af besluit het om te doen nie,” het mnr. Hamutenya gesê.
“Skud die juk van vrees af wat Swapo by julle probeer vestig. Staan op en wees dapper en stem vir dit waarin u glo,” het hy kiesers bemoedig.
Hy het bygevoeg dat daar iemand ver meer intelligent as die Regering, enige politikus of politieke partye is, naamlik die kiesers. Dit is in die kiesers se hande om op 27 en 28 November ’n verskil te maak aan die geskiedenis van die land.
“Na 20 jaar van mislukking om onderwys, behuising en werkgeleenthede na die mense van die land te bring, na 20 jaar van korrupsie en ’n Regering wat selfsugtig net na homself en sy lede kyk, is dit tyd dat hulle van die toneel moet verdwyn,” het mnr. Hamutenya gesê.
Hy het ook verwys na die miljoene dollar wat die afgelope 20 jaar in korrupsieskandale uit die staatskoffers gesteel is, en gesê dit het kinders van onderwys ontneem en het meegebring dat kinders vandag nog onder bome moet skoolgaan omdat hulle nie behoorlike klaskamers het nie.
“Die Regering gee nie om vir my en vir jou nie, óf vir die enkelma wat sukkel om vir haar kinders ’n goeie opvoeding te gee nie. Hulle gee eerder Chinese beurse aan die kinders van politici en vooraanstaande staatsamptenare. Dit geskied ten koste van die arm kinders van Namibië.
“Dit sal ’n sonde wees om vir hierdie Regering vir nog ’n termyn van vyf jaar die mag te gee om te regeer.
“Wanneer u in die stemlokaal staan, dink aan ons werklose broers en susters, dink aan die leerlinge wat nie graad 10 of graad 12 kon slaag nie, dink aan die mense wat op die straathoeke staan en hoop op ’n los werkie, dink aan die mense wat in informele nedersettings leef en aan vroue wat in prostitusie gedwing word omdat hulle geen ander manier het om ’n inkomste te verdien nie. Ons het verandering nodig en die RDP kan die geloof en hoop in die land van die dapperes herstel,” het mnr. Hamutenya bygevoeg.
Hy sê Swapo is bekommerd dat hulle die verkiesing gaan verloor.
“Ek is bekommerd oor ons kinders wat druip, oor weerlose mense, oor alkoholmisbruik, oor sjebeens wat langs skole en kerke oopmaak, mense wat dakloos is,” het hy gesê.
Hy het ’n beroep op kiesers gedoen om vir die RDP te stem omdat die party omgee vir die belange van die Namibiese volk.
Hy het ook aangekondig dat die ingeskrewe ledetal van die RDP nou op 390 000 mense staan. Hy het kiesers aangeraai om elk toe te sien dat hulle ’n familielid, vriend of buurman of vrou saamneem stembus toe, sodat elke moontlike stem vir die RDP uitgebring kan word.
|