
Mnr. Jeremia Nambinga
HERVESTIGDE Kavango-boere in die Mangetti-gebied word in blatante politieke omkopery deur Swapo misbruik om vir dié party te stem. So sê die RDP se sekretaris van inligting en publisiteit, mnr. Jeremia Nambinga.
Hy het op ’n nuuskonferensie gesê die hervestiging van hierdie boere is ’n duidelike teken van hoe Swapo mense omkoop om vir hulle te stem. Hierbenewens is die kontrak wat met die hervestigde boere gesluit is, ongrondwetlik omdat die boere nie “sonder vooraf skriftelike toestemming van die Ministerie” aan enige politieke aktiwiteite op die hervestigingsgrond mag deelneem nie.
“Dit is nie net verraad van die Namibiese mense wat geveg en gesterf het vir hierdie land nie, maar ook ’n totale skending van die Grondwetlike reg om aan enige vereniging of politieke party van hul keuse te behoort. Dit moet daarom verwerp word met die minagting wat dit verdien,” het mnr. Nambinga gesê.
“Die huurooreenkoms tussen die kommunale boere en die Regering is net vir een jaar geldig, wat beteken dat ná die verkiesings, hierdie mense self elders plek sal moes soek om te bly. Dit wys duidelik dat die Regering nie ernstig is oor die lot van hierdie mense nie, maar dat dit bloot ’n manier is om stemme te kry,” sê mnr. Nambinga.
“Namibië is waarskynlik die mees ondemokratiese party in Suider-Afrika,” het mnr. Nambinga gesê.
Voorts beskuldig hy Swapo daarvan dat dié party in vorige verkiesings gekul het ten einde seker te maak dat die party aan die bewind bly. Dit het onlangs onder die aandag van die RDP gekom dat ’n Swapo streekraadslid vals geboortesertifikate aan buitelanders uitgereik het, wat hulle in staat gestel het om as kiesers te registreer en in die 2004 verkiesing te stem.
Toe hulle egter na die verkiesing wou aansoek doen vir Namibiese identiteitsdokumente, is hul aansoeke van die hand gewys omdat hulle nie Namibiërs is nie. Dit is onbekend hoeveel sulke buitelanders op dié onderduimse manier gekoöpteer is om Swapo aan die bewind te help hou deur hul stemme.
Voorbeelde van hierdie verkiesingsbedrog het in Caprivi aan die lig gekom, waar geboortesertifikate in 2000 uitgereik is. Dié sertifikate is deur die streeksraadslid van Kongola uitgereik en nie deur ’n amptenaar van die Ministerie van Binnelandse Sake nie.
“Dit wys dat die speelveld nog nooit gelyk was nie en ons vrees gevolglik dat die onwettige en verwerplike gebruike in die komende verkiesings herhaal sal word. “Ons maan alle Namibiërs om waaksaam te wees en ons versoek die Swapo-regering om hulle van hierdie soort vuil spel te weerhou, sodat die mense van hierdie land die party kan kies wat hulle glo hulle vir die volgende vyf jaar kan lei,” het mnr. Nambinga gesê.
Hy het voorts gesê die RDP se huis tot huis en sjebeen tot sjebeen werwingsveldtog is uiters geslaagd en maak Swapo desperaat. Dit lei tot onsinnige uitsprake deur Swapo-leiers, onder wie Pres. Hifikepunye Pohamba, wat eers die RDP uitkryt en slegsê soos geen ander politieke party nog beledig is nie, maar later sê die RDP is nie ’n politieke party nie, omdat dit (nog) nie parlementêre verteenwoordiging het nie.
“Die enigste rede hoekom Swapo bang is om ’n verkiesing te verloor, is omdat dié party bang is om beheer te verloor oor nasionale hulpbronne waarmee hulle hulself deur korrupsie verryk,” het mnr. Nambinga gesê.