
Mnr. Jesaya Nyamu
DIE tyd het aangebreek vir Swapo om onvoorwaardelik verskoning aan te bied vir die duisende Namibiërs wat marteling en onmenslike behandeling ondergaan het terwyl hulle in die gate van Lubango en elders in ballingskap aangehou is.
So sê die sekretaris-generaal van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Jesaya Nyamu, in ’n verklaring na aanleiding van die onlangse Heldedagvieringe. “Hierdie kwessie sal nie vanweë wensdenkery in die niet verdwyn nie. Die RDP doen ’n beroep op die leierskap van Swapo, wat ’n onafwendbare verantwoordelikheid het vir wat in Lubango en elders in ballingskap gebeur het.
Swapo moet politieke en morele moed aan die dag lê en die saak vir eens en vir altyd oplos. “Twintig jaar na ons onafhanklikwording spook die Lubango-gate nog by die volk en dit gaan nie weg nie, ondanks die vals beleid van nasionale versoening wat na onafhanklikwording deur die Regering aanvaar is.
“Die kern van die saak is dat die Swapo-party en sy Regering weier om die hand van ware versoening na die slagoffers uit te reik,” sê mnr. Nyamu. Hy bring ook hulde aan die handjievol Swapo-vryheidsvegters wat 43 jaar gelede deelgeneem het aan die geskiedkundige slag van Omugulu-gwoombashe.
“Dit is ook byna 20 jaar na ons nasie onafhanklikheid en vryheid gekry het, iets wat ons diep koester. Sommige geskiedkundiges het die veldslag van Omugulu-gwoombashe vergelyk met die ongelyke stryd tussen Dawid en Goliat wat die ongelykheid tussen die gewapende magte van daardie tyd onderstreep.
“Tog het die uitslag van daardie stryd wat meer as twee dekades geduur het, ’n oorwinning tot gevolg gehad vir diegene wat vir vryheid en demokrasie geveg het. Die verkryging van ons vryheid het met die prys gekom dat ons Plan-guerillas met hul bloed en lewens moes boet.
Duisende mense het vir ons die hoogste prys betaal om vry te wees. “Ter gedagtenis aan hulle beloof die RDP om die ideale waarvoor hulle gesterf het en die ideale van die wat nog leef soos mnr. John Nankudhu Ya Otto, te verdedig en te beskerm. Ons beloof dat ons vasberade sal wees en ter verdediging van ons onafhanklikheid sal veg om te verseker dat hierdie land hulle as helde en heldinne sal vereer,” sê mnr. Nyamu.
Die RDP is ook ontevrede met die wyse waarop Heldedag herdenk is. 26 Augustus is tot nasionale vakansiedag geproklameer en moet as ’n nasionale dag herdenk word. Maar uit onkunde en in ’n growwe skending van die letter en gees van die wet, het die Swapo-party en Regering die geleentheid gekaap vir ’n dag waarop ’n Swapo politieke karnaval gehou word, wat daardie burgers wat nie lede van die party is nie, van deelname aan die vieringe uitsluit.
“Die RDP veroordeel sodanige praktyke op die sterkste moontlike wyse en doen ’n beroep op almal in die Regering om die wette van die land te respekteer en te gehoorsaam en 26 Augustus as ’n nasionale dag en nie ’n Swapo-dag nie, te herdenk,” sê mnr. Nyamu.
Hy bring ook hulde aan die “ware helde en heldinne” onder die bevrydingstryd se politieke leierskap en sonder veral mnr. Homateni Kalwenya en mnr. Peter Eneas Nanyemba uit. “Albei is in raaiselagtige omstandighede dood en sommige elemente in Swapo het probeer om herinneringe aan hulle uit die annale van die Namibiese geskiedenis te vee.”
Mnr. Kalwenya (of “kommandant” soos hy bekend gestaan het) was ’n lid van die Sentrale Komitee van Swapo en sekretaris van die Jeugliga ten tyde van sy sterfte in Luanda. Hy het twee boeke geskryf en in die laaste een het hy sekere Swapo-leiers geïmpliseer wat by die stigting van Unita betrokke was. Hulle was vir die dood van duisende onskuldige Angolese en Namibiërs in albei lande verantwoordelik.
“Dit is dus nie verbasend dat sy graf in Luanda volgens berigte onherkenbaar geskend is nie.” Mnr. Nanyemba (Ndilimani) is in ’n motorongeluk dood wat baie vrae laat ontstaan het. Hy was die langsdienende sekretaris van verdediging van Swapo “met ’n brein soos ’n rekenaar”.
“Sommige van sy medeleiers wat hulle as sy vriende voorgedoen het, was egter bang vir sy vermoë om probleme op te los en PLAN as ’n gevegsmag op te bou. Daar is berigte dat sy graf by Lubango ook onherkenbaar geskend is.
“Die RDP dring gevolglik daarop aan dat die oorskotte van hierdie twee helde teruggebring word na Namibië en by die Heldeakker ter ruste gelê word.
“Ander senior Swapo-leiers het ook baie bygedra tot ons onafhanklikheid en vryheid en het na onafhanklikwording gesterf. Hulle is mnre. Peter Mweshiange en Moses //Garoëb. Laasgenoemde was die eerste sekretaris van buitelandse sake, later sekretaris van verdediging en daarna sekretaris van administrasie. Die RDP dring daarop aan dat hul oorskotte ook onmiddellik by die Heldeakker begrawe word waar hulle hoort,” sê mnr. Nyamu.