14.10.2009 Swapo en RDP is dieselfde, sê Moongo
 ’n Deel van die skare wat die DTA-vergadering op Ondangwa bygewoon het.
OM vir Swapo in die komende Presidents- en Parlementêre verkiesings te stem, is om die misbruik en diefstal van staatsgeld te ondersteun, het die DTA se visepresident, mnr. Phillemon Moongo, Sondag gesê toe hy ’n DTA-takvergadering in die Uupopo-woonbuurt van Ondangwa toegespreek het.
Volgens hom is die Swaporegering medepligtig in die diefstal van staatsgeld omdat die Regering tot dusver gefaal het om op te tree, terwyl vermeende diewe inderdaad tot hoër posisies bevorder is. “Hulle steel nie meer klein bedrae soos twee of drie miljoen nie. Nou steel hulle N$100 miljoen of meer. Selfs mense wat verdink word dat hulle ’n rol gespeel het in die verdwyning na N$30 miljoen van die Maatskaplike Voorsorgkommissie word tans teruggenooi … om wat te doen?”
Swapo en die Rally for Demo cracy and Progress (RDP) is twee takke van dieselfde boom. Daar is werklik geen verskil tussen mnr. Sam Nujoma en mnr. Hidipo Hamutenya nie, het DTA-leiers herhaaldelik aan vergaderinggangers gesê.
“Daar is geen verskil tussen mnr. Nujoma en mnr. Hamutenya nie. Die enigste verskil is dat mnr. Hamutenya tans ’n gefrustreerde man is, maar hy gaan dieselfde foute as Swapo maak sou hy die geleentheid kry,” het mnr. Moongo gesê.
Volgens hom het mnr. Hamutenya as Swapo-leier verkies om “stil te bly” toe die DTA Swapofoute uitgewys het. “Hy het die RDP gestig, nie om Swapo-foute reg te stel nie, maar omdat hy gefrustreerd is,” het hy gese.
Die DTA-voorsitter in die Oshana- streek, mnr. Higinus Daniel-Kaya, het gesê die rede hoekom Swapo ongemaklik voel oor demokrasie is omdat Swapo eintlik nooit vir demokrasie gestaan het nie. “Hulle wou ’n outokratiese regering hê. Demokrasie is deur die DTA op hulle afgedwing. Dit is hoekom Swapo-leiers spog hulle is kamma demokrate, maar hulle leef terselfdertyd in woede omdat die burgers hul demokratiese regte uitoefen,” het hy gesê.
Mnr. Agatus Antanga van die DTA Jeugliga het die jeug aangemoedig om ’n aktiewe rol in die verkiesingsveldtog te speel en om in November te gaan stem.
Volgens die DTA-kandidaat Loide Iipinge het Swapo die afgelope 19 jaar misluk. “Gee ons net ’n vyfjaartermyn en julle sal die verskil sien,” was haar versoek.
Die DTA-beampte in Oshana, me. Cesilia Kamali, het ondersteuners van ander partye genooi om die keer vir die DTA te stem en verandering teweeg te bring.
|