|
Republikein
|
|
|
4.11.2009 Swapo ‘bang en kwaad oor komende verandering’![]() Van links is senior hoofman Joseph Michael Holongo en mnre. Kandy Nehova, Hidipo Hamutenya, Rudolph Kamburona en Shapwa Kaukungwa tydens die vergadering op Okongo.
NAMIBIËRS vra verandering, het die leier van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Hidipo Hamutenya, Sondag gesê toe hy sy party se vergadering by Okongo in die Ohangwena-streek toegespreek het.
Mnr. Hamutenya het gesê die RDP sal verandering teweeg bring, maar dit sal slegs moontlik wees indien die inwoners hul kant bring deur vir die party te stem. Hy het gesê indien sy party aan die bewind kom, maar nie na wense vertoon nie, is die kiesers vry om hulle na vyf jaar te verwyder.
“Dit is waaroor demokrasie gaan” en dit is glo waarteen Swapo ge kant is. “Swapo is bang en kwaad. Hulle vrees verandering en hulle vrees die RDP,” het mnr. Hamutenya gesê. Volgens hom het die regerende party die afgelope jare hom aan verkiesingsbedrog skuldig gemaak. “Ons wil hulle op ’n gelyke speelveld konfronteer deur alle skuiwergate te verwyder. Hulle voel die knyp en ons sal nie ophou druk nie. Ons sal nie toelaat dat Swapo bo ander partye bevoordeel word nie,” het hy gesê. Mnr. Hamutenya het voort gese: “Swapo gebruik intimidasie om vrees te skep, maar die RDP sal dit nie toelaat nie. Ons was onder die grondwetskrywers en weet wat is wettig en wat is onwettig. Hulle het niks om ons te leer nie.”
Hy het RDP-ondersteuners aangemoedig om vreesloos te bly, wetend dat hulle op die regte pad is. “Intimidasie is die wapen van die duiwel,” het hy gesê.
Hierdie laaste sin het toevallig saamgeval met ’n beroering in die skare. RDP-veiligheidsagente het ’n gewapende individu in die skare gewaar en hom aan die Namibiese polisie uitgewys. Hy is met sy pistool en al vir ondervraging na die polisiekantoor geneem. Paragraaf twee van die gedragskode van Politieke Partye verbied die dra van wapens van enige aard tydens politieke vergaderings, optogte en betogings. ![]() ’n Deel van die skare wat die RDP se vergadering op Okongo bygewoon het. Placido Hilukilwa op Okongo |
|