
Swanu het Saterdag sy 50ste verjaardag in Windhoek gevier. Die party is op 27 September 1959 gestig as ’n bevrydingsbeweging om die koloniale onderdrukking en besetting te beveg. Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs en verteenwoordigers van verskeie ander politieke partye het die geleentheid saam met Swanu by Tabitha Ouetehuis tussen Khomasdal en Katutura gevier.
SWANU, die moeder van alle politieke partye op die weg na die onafhanklikheid van Namibië, het Saterdag sy 50ste verjaardag kleurryk in Katutura gevier.
Die eerste nasionale bevrydingsorganisasie roem daarop dat dit die sambreelorganisasie was onder wie se vleuels partye soos SWAPA (South West African Progressive Association), OPO (Owamboland People’s Organisation) en die Herero Chiefs Council politieke respek geniet het.

Mnre. Gerson Hitjevi Veii (links) en dr. Rihupisa Kandando, voormalige president van Swanu.
So ook word die name van die bekendste politici met Swanu verbind, naamlik sy eerste president, wyle mnr. Jariretundu Kozonguizi, die eerste visepresident, mnr. Uatja Kaukuetu, die eerste sekretarisgeneraal, mnr. Uaseta Mbuha, en mnre. Isascar Kambatuku, Louis Nelengani, Nathaniel Mbaeva, die stigterpresident van Namibië, mnr. Sam Nujoma, mnr. August Gariseb, Aaron Kapere, John Muundjua en Emil Apollus wat die stryd gevoer en die weg gebaan het vir die onafhanklikheid van die land.
“Ons het nie en sal nie eensydig die monopolie aan onsself toeken met betrekking tot die onafhanklikheidstryd nie, maar individue erken en vereer vir hul bydrae in daardie spesifieke era van die stryd,” lui die verklaring wat deur Swanu uitgereik is.
“Jy kan vandag ryk of arm wees of die duurste voertuig bestuur, of jy kan wees wat jy wil, maar jy kan nie Swanu wegwens nie, want al die politieke partye kom uit Swanu,” het mnr. Gerson Hitjevi Veii, voormalige president van Swanu, tydens die spoggeleentheid gesê.
Mnr. Veii wou daarmee die feit duidelik stel dat Swanu instrumenteel was in die onafhanklikheidstryd van Namibië en in die gebeurtenisse soos die Ou Lokasie-opmars.
“Om dit van Swanu weg te vat, is om soos Cassinga en Cuito Quanavale van Swapo weg te vat. Alles het met Swanu begin,” het hy gesê.
Die veteraan politikus wat vanaf 1966 tot 1972 onder die Suid- Afrikaanse apartheidswette op Robbeneiland aangehou is, is van mening dat die land se geskiedenis verdraai is. Hy het die skrywers wat die geskiedenis van die land ken, versoek om die regte geskiedenis van die land te skryf.
“Ons het hulle gehelp om die Bantoestan te belet. Wie is die persoon wat Swapo aan die internasionale gemeenskap voorgestel het? Maar vandag word ons dit ontneem, selfs deur mense wat nie eens daar was nie. Ons is nie in hul beursies nie en dis hoekom hulle ons ontken. Mense is orals omgekoop, maar Swanu was nie bereid om omkoopgeld te aanvaar nie,” het mnr. Veii gesê.
Anders as ander partye, het Swanu sewe presidente oor die afgelope 50 jaar gehad, ’n praktiese beginsel wat volgens mnr. Veii die demokrasie binne die party uitbeeld.