24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

28.05.2009

Swanu stel sy verkiesingsmanifes bekend


Mnr. Usutuaije Maamberua
DIE grootste politieke uitdagings wat die land in die gesig staar, is politieke verdraagsaamheid, nasionale eenheid, die bevordering van demokrasie, die regstaat en geregtigheid.

Benewens maatskaplike en ekonomiese uitdagings waarmee Namibië te kampe het, is die politieke uitdagings belangrik ten einde vrede, stabiliteit en rustigheid in die land in stand te hou.

Dit is die mening wat Swanu se president, mnr. Usutuaije Maamberua, met die bekendstelling van die party se manifes gehuldig het. Swanu spreek die hoop uit dat die komende verkiesings vry en regverdig sal wees en sal plaasvind in ‘n atmosfeer wat bevorderlik is vir die beginsels waarop die demokratiese grondwetlike staat van Namibië gevestig is.

Volgens mnr. Maamberua moet haatspraak deur partyleiers aan strafmaatreëls deur politieke partye onderwerp word. Dit behoort tot diskwalifikasie van deelname aan die verkiesing, hetsy as individu of as party, te lei.

Die netelige kwessie van die toekenning van lugtyd aan politieke partye deur die Namibiese Uitsaaikorporasie, was deur hom aangeroer. Hy meen dit is verdraai en ongelyk. Dit is ongrondwetlik en om dié rede moet alle partye gelyke toekenning van lugtyd ontvang.

Die politieke speelveld moet gelyk wees en partyfinansiering moet gegrond wees op die aantal stemme wat ‘n party ontvang en nie op die aantal setels wat ‘n party in die Nasionale Vergadering verwerf nie. In die verkiesings mag net van penne en nie van potlode nie gebruik gemaak word om kruisies te trek.

Stembriewe moet gedruk word deur ‘n neutrale maatskappy wat nie verbonde is aan enige politieke party nie en gevolglik moet enige kontrak met die maatskappy met bande met Swapo nietig verklaar word.
Demokrasie en menseregte
 
Swanu sê demokrasie en menseregte is redelik beskerm, maar meen tog dat meer gedoen kan word omdat dit regstreeks aan ontwikkeling verbind is. Die Namibiese gemeenskap moet opvoedkundig ontwikkel word om demokrasie en menseregte te waardeer en dit hul eie te maak sodat dit deel van die politieke kultuur in die land kan wees.

Meer begrotingshulp moet aan die direktoraat Regshulp gegee word of dit moet tot dieselfde vlak as die van die Verkiesingskommissie verhef word. ‘n Kantoor vir ‘n wetlike parlementêre kommissaris moet geskep word omdat die Prokureur-generaal volgens Swanu partydig is en in die rigting van die Regering van die dag leun.

Interparty-forums moet geskep word waar nasionaal sensitiewe aangeleenthede soos afstigting, nasionale rampe, die ontplooiing van Namibiese soldate in die buiteland vir gevegsdoeleindes asook grondwetlike veranderinge bespreek kan word.

Swanu stel ook voor dat ‘n parlementêre tribunaal op die been gebring word aan wie parlementslede oor hul doen en late verslag sal moet doen.
Desentralisering en grondhervorming
 
Die party staan ook desentralisering en grondhervorming voor en wil graag sien dat heelwat dienste na landelike en streekgebiede oorgedra word, omdat dit daar is waar meer as 70 persent van die land se bevolking woon.

Desentralisering moet geëwenaar word met finansiële beleggings in die vorm van ‘n “Marshall”-plan ten einde die skewe en ongelyke verspreiding van bronne na streke en landelike mense teen te gaan.

Grond is volgens Swanu die sentrale pilaar van die bevrydingstryd. Die program vir die aankoop van grond moet geskoei wees op die aantal mense wat grond nodig het. Dit moet gebaseer wees op vasgepende tariewe wat bepaal word deur plaas-reguleringsliggame wat vir die doel tot stand gebring moet word.

Voorts moet die verkryging van grond in die openbare belang wees.
Staatsbestuur en die lewering van diens
 
Die kritiek wat Swanu teen die huidige staatsdiens het, is dat dit sedert onafhanklikwording nie verander het met nuwe vereistes soos om mense te werf wat hoër kwalifikasies behaal het nie. Die vergoedingspakkette van diegene wat wel hoër kwalifikasies behaal het, weerspieël nie die belegging wat gemaak is om die kwalifikasies te verwerf nie.

Die feit dat nóg die Staatsdienskommissie nóg die Kantoor van die Eerste Minister, waaronder die kommissie val, enige kritiek gelewer het op oproepe van “werksgeleenthede vir kamerade”, word deur Swanu veroordeel. Dit is volgens Swanu ongrondwetlik.
Stryd teen korrupsie
 
Die hedendaagse samelewing is geïndoktrineer met die waardes van individualisme, wat strydig is met die beginsels van Afrikaselfbestuur. Met ‘n gemengde ekonomie wat meer in die rigting van kapitalisme beweeg, word korrupte praktyke aangemoedig. Korrupsie word deur private gierigheid ten koste van openbare belang versterk.
Buitelandse betrekkinge
 
Namibië behoort die posisie en menings van soewereine regerings en hul mense te respekteer en om die rede moet vriendskaplike bilaterale en multilaterale betrekkinge gehandhaaf word.

Namibië kan ook nie neutraal in internasionale aangeleenthede staan nie. ‘n Agenda moet opgestel word met ander lande wat kan bydra tot die ekonomiese, maatskaplike en politieke ontwikkeling van Namibië met inagneming van die beginsels van demokrasie, die regstaat en geregtigheid vir almal.

Swanu sal ook nie ‘n beswaar hê indien Namibië ander lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), die Afrikaunie (AU) en globaal beïnvloed om in pas met Namibië se grondwetlike bepalinge op te tree nie.

Meer duidelikheid is ook nodig in Namibië se amptelike posisie ten opsigte van Israel en Palestina; vergoeding van Duitsland aan die slagoffers van volksmoorde en die houding teenoor Afrika-diktators en kleptomane wat voortgaan om mede-Afrikane in slawerny te hou, te verarm, uit te buit en hul waardigheid aan te tas.
Armoede
 
Dit is belangrik dat ‘n Namibiese regering besef dat die meeste mense nie skuiling het nie en aan voedsel en klere te kort skiet. Die Regering moet ingryp en aandag daaraan skenk. Swanu sal alles moontlik doen om nie net armoede te verminder nie, maar om dit heeltemal uit te wis.

Pensioene sal verhoog word, beleggings sal in landelike projekte gemaak word, ‘n fonds vir werklose jongmense en mense wat werk soek, sal op die been gebring word, buitensporige landelike waterrekeninge sal afgeskryf word, onderwysgelde sal afgeskaf word, finansiële bystand sal aan slagoffers van natuurrampe verleen word en buitelandse myn- en mariene bedrywe sal herstruktureer word sodat dit in vennootskap met lae inkomste en landelike koöperatiewe liggame kan tree.
Ekonomiese ontwikkeling
 
‘n Regering behoort ‘n omgewing te skep wat bevorderlik is vir die ekonomie om welvaart te skep en ook betrokke wees by die proses om welvaart onder die bevolking te versprei.

Aangesien die huidige ekonomiese beleid geskoei is op die beginsel van ‘n gemengde ekonomie, kan die staat voortgaan om ondernemings te besit wat op sakebeginsels bestuur moet word sodat die welvaart in die bevolking teruggeploeg kan word.

Wanneer Swanu aan bewind kom, sal geleenthede geskep word op laer vlakke om diegene wat nie graad 12 geslaag het nie, by te staan om ondervinding op beroepsopleiding- en tegniese vlakke te kry. Pogings sal ook aangewend word om by waardetoevoeging- projekte betrokke te raak met die doel om werkgeleenthede te vermeerder.

Die maatstaf vir swart ekonomiese bemagtiging sal fokus op die armstes van die armes, die mees weerlose en behoeftigste mense in die gemeenskap.

Meer geld sal ook beskikbaar gestel word vir ontwikkelingsinstansies soos AgriBank en die Nasionale Behuisingsonderneming sodat meer werkgeleenthede geskep kan word.
Onderwys
 
Preprimêre onderwys sal deur ‘n Swanu-regering gefinansier word en groter beleggings sal in landelike skole en voorheen benadeelde gemeenskappe gemaak word.

Voorts sal die mandaat van die Politegnikum versterk word om meer tegnies gegradueerdes op te lewer.

Onder ‘n Swanu-regering sal morele en godsdienstige onderwys meer aandag ontvang ten einde minder korrupte en meer verantwoordelike burgers te produseer.
Gesondheid
 
Swanu as party ondersteun sosialisme as teenvoeter vir die heersende omstandighede waar mense tot die strate verdoem is. ‘n Universele gesondheidsversekering vir alle Namibiërs sal deur sowel die private as die openbare sektor gefinansier word.

Pogings sal ook aangewend word om die salarisse van gesondheidswerkers te verhoog en meer geld sal in navorsing van MIV/vigs belê word as ‘n manier om die siekte te bekamp. Geslagsvoorligting sal by skole ingestel word.
Redes om vir Swanu te stem
 
Aangesien Swanu sosialisties is, is dit volgens die manifes die enigste party wat, gestel teenoor private gierigheid, 'n party is wat omgee en wat deel, solidariteit en kameraadskap bevorder.

Onder ‘n Swanu-administrasie sal onderwys gratis en verpligtend wees, gesondheidsorg sal gesosialiseer wees en ‘n fonds vir werklose jongmense sal tot stand gebring word. Synde die oudste politieke party in Namibië, het Swanu ‘n bewese rekord van demokratiese getuigskrifte.

Dit is ‘n demokratiese party met duidelike beleidsrigtings en strategieë wat daarop gemik is om armoede, werkloosheid en ongelykheid die stryd aan te sê.

Voorts onderneem die party om grond aan en welvaart en waardigheid van die agtergeblewenes van Namibië te herstel. Sou die party aan bewind kom, sal voorkeur aan behoeftiges en armes verleen word.