
Mnr. Hendrik Christian
DIE omstrede kwasiregsgeleerde, mnr. Hendrik Christian, is in die sop by sy politieke party vir onregmatige menings wat hy namens Swanu op skrif gestel het gedurende die afgelope hofgeding oor verlede jaar se verkiesingsuitslae.
Die party is besig met ’n ondersoek na mnr. Christian se bedrywighede, het mnr. Tangeni Iijambo aangekondig. Nie net het mnr. Christian op 19 Februarie ’n beëdigde verklaring afgelê waarin hy Swanu sonder die medewete van die party se topleierskap by die opposisiepartye geskaar het wat die verkiesingsuitslae betwis nie.
Hy het ook by die hof probeer kla dat Regterpresident Petrus Damaseb as ’n lid van Swapo homself eerder van die saak moes verskoon het. Swanu is ’n respondent in die saak, maar het nie soos Swapo verdediging aangeteken nie.
Volgens mnr. Iijambo is die party uiters ontsteld oor mnr. Christian se optrede. “Ons wil herhaal dat die sogenaamde petisie (teen Regter Damaseb) nooit bespreek of goedgekeur is deur die politburo, die party, die president of enige gesag in die party nie,” lui ’n verklaring deur Swanu.
“Ons wil die publiek en alle partye wat op enige manier deur die bejammerenswaardige voorval geraak is, verseker dat Swanu as ’n gedissiplineerde, patriotiese, demokratiese en revolusionêre voorhoede van Namibiese politiek nie enige lid of medewerker sal toelaat om die nasionale beeld van die party te besoedel nie.”
Volgens mnr. Iijambo is mnr. Christian nie geskors nie, maar voorgeskrewe dissiplinêre prosedures sal beslis hul loop neem.