24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

20.08.2010

Sukkeldorpe se status tuimel

© Republikein
Mnr. Erastus Negonga
MET verkiesings wat elke dag nog ’n treetjie nader kruip, het Minister Jerry Ekandjo verlede maand beveel dat ’n proklamasie vir die verandering van agt Namibiese dorpe se plaaslike owerheidstatus dringend afgehandel moet word vóór inwoners in November die stembus besoek.

Vir vier dorpe is hoër status op die horison.

Die res – drie van hulle in die Erongo-streek – staar rangverlagings in die gesig, wat onder meer ’n verlaging in raadslede se sittingstoelae beteken.

Uis sal sy UDF beheerde raad heeltemal kwyt wees.

Sommige inwoners van die voormalige myndorpie, wat van nedersetting tot vestigingsgebied herklassifiseer sal word, is goed die josie in oor ’n bevel wat die dorp ná die verkiesings onder die voogdyskap van die Erongo-streekraad sal plaas.

Volgens wet is só ’n hergradering alleen geregverdig wanneer ’n nedersettingsraad en sy bestuur selfs met bystand nie meer inwoners se gesondheid en welsyn kan verseker nie. Alle bates van Uis se nedersettingsraad sal volgens wet deur die streekraad oorgeneem word.

’n Vestigingsgebied is volgens prof. Gerhard Tötemeyer se kennersdefinisie “die embriofase van ’n dorpie”, of “’n konsentrasie van ’n groot aantal mense wat nog nie behoorlik georganiseer en geadministreer word nie.”

“Ons het ook stories gehoor,” het mnr. Sadrag Thourob, hoofklerk op Uis, oor die terugslag aan Republikein gesê, “maar nog geen bevestiging van die Ministerie ontvang nie. Hy (mnr. Ekandjo) het ons nommer. Hy kan gerus ook vir ons ’n faks stuur.”

Volgens mnr. Thourob het Uis by ’n onlangse ministeriële begrotingsberaad opnuut benadruk dat die raad nie met die huurgeld vir huise as feitlik hul enigste inkomste hond haaraf kan maak nie. Betalings vir elektrisiteit en water word direk aan Erongo RED en NamWater gedoen.

As ’n versoek vir die hersiening van Uis se dorpsgrense – waarvoor daar al drie jaar gelede gevra is – nie geweier is nie, kon die dorp volgens mnr. Thourob lankal groot beleggings gewerf het om ontwikkeling terug op koers te kry. Die aansoek is glo teengestaan deur iemand met ’n eksklusiewe prospekteerlisensie (EPL) van die Ministerie van Myne en Energie.

Karasburg, Karibib en Usakos se gradering gaan van tweedevlak munisipale owerhede na gewone dorpstatus ingeperk word. Die burgemeesters van al drie dorpe was by navraag totaal onbewus van die besluit.

“Sulke hergraderings is ’n normale ding,” het die permanente sekretaris van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, mnr. Erastus Negonga, benadruk. “Dit is die prerogatief van die Minister.”

Mnr. Ekandjo het op 14 Junie aan mnr. Negonga geskryf dat die deurvoering van die veranderings “kritiek vir volhoubare ontwikkeling” is.

Volgens mnr. Negonga is dit ’n vereiste dat ’n munisipaliteit al sy werksaamhede uit eie inkomstebronne moet kan finansier. Dorpe kry hierteenoor beperkte ondersteuning van die sentrale regering.

Aranos, Oshikuku, Otavi en Ruacana het beter as plaaslike owerhede presteer en die vier nedersettings sal volgens die voorgenome proklamasie dorpstatus kry.

Mnr. Ekandjo wou teen 31 Augustus ’n vorderingsverslag hê oor die publisering van die nodige aankondiging in die staatskoerant. Intussen is blykbaar probeer om die regskennisgewing reeds vroeër af te handel.

Die staatskoerant het 1 September as die verwagte publikasiedatum verstrek.