SCORE CARD:


20 YEARS OF INDEPENDENCE

Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Okahandja stem


Lesers 2010


Fotobeelde

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

01.03.10

Drywer skiet homself ná vragongeluk in woestyn

03.03.10

Stem Namibies

02.03.10

Tiger Reef bly in branders se visier

28.02.10

Ruiterstandbeeld staan weer trots

01.03.10

Beesdief steel ’n tweede keer

3.07.2009

Struggle-prent min werd

• Wêreldaanbod ’n skrale N$4 miljoen

DIE staatsgefinansierde rolprent oor die lewe van stigterpresident Sam Nujoma en die vryheidstryd is terug onder die lem. En buiten vir die N$80 miljoen wat die Regering reeds in hierdie omstrede projek ingepomp het, bestaan boonop ’n behoefte aan nog geld…

Hierdie keer is snywerk egter nie vir “ideologiese” en geskiedkundige korrektheid soos voor die uiteindelike openbare vertoning van Namibia: The Struggle for Liberation nie, maar omdat ’n buitelandse verkoopsagent eenvoudig op ’n korter weergawe aangedring het om uiters gedempte internasionale belangstelling ’n hupstoot te gee.

Volgens dokumentasie wat mnr. Edwin Kanguatjivi, sekretaris van die Namibiese Rolprentkommissie (NFC), by navraag met Republikein gedeel het, was ’n string voornemende kopers van die regte om die rolprent in buitelandse teaters en op TV te vertoon of in DVDformaat te versprei, in Januarie vanjaar kwalik bereid om N$4 miljoen (US$497 000, verreken teen huidige wisselkoerse) vir die toenmalige Where Others Wavered op te dok.

Die bedrag verteenwoordig ’n skrale vyf persent van die N$80 miljoen se belastinggeld wat vir die rolprent bewillig is. In Suid-Afrika, waar ’n verspreider maar net US$10 000 vir alle regte aangebied het, is die lus vir die Nujoma-fliek van die flouste.

’n Japanse bieër was bereid om twee keer meer te betaal en Australië tot US$35 000. Uit Duitsland was daar aanbiedinge van US$55 000 (vir eksklusiewe TV-regte) en uit Mexiko ’n hele US$70 000. Selfs die Chinese wou ’n korter fliek hê.

Russe het ook groot geld aangebied, maar verskyn nie meer op die laaste aanbodlys wat in Januarie opgestel is nie. Mnr. Kanguatjivi het ook bevestig dat nog geld inderdaad nodig is.

“Ons het om ’n lening van US$300 000 (sowat N$2,5 miljoen) by die Ontwikkelingsbank (DBN) aansoek gedoen. Dit is mos nie baie geld nie,” het hy bygevoeg.

Die bank wou egter ’n waarborg hê, waarvoor volgens mnr. Kanguatjivi reeds by die Ministerie van Inligting en Kommunikasietegnologie aansoek gedoen is.

Volgens hom is dit noodsaaklik om die nuwe weergawe van Struggle, ongeveer 45 minute korter as die aanvanklike bielie van byna drie ure, in ’n klompie groot wêreldstede vrygestel te kry. Bywoningsyfers kan volgens hom plofbare skietgoed gee vir verdere bemarking.

Die NFC se sekretaris het ook benadruk dat die land ook verdere geld uit vertonings, beeldsending en verhuring sal verdien. Die prys van die regte is net die wegspringplek.

“Die ding is verkoopbaar!” het hy verseker. “Maar ons moet die maksimum uit die rolprent haal wat reeds groot pryse by verskeie internasionale rolprentfeeste losgeslaan het. Ons kan dit mos nie maak en dit dan op die rak laat stof vergader nie.”

Volgens vertroulike dokumente wat aan Republikein gelek is, het groot konsternasie vroeg vanjaar losgebars toe die Kabinet blykbaar dringend op terugvoering oor vordering met die verkoop van die rolprent aangedring het.

Die gevolg was dat twee rolprentkommissarisse agter mnr. Kanguatjivi se rug ingespring en direk met die oorsese agent begin gesels het. Hy beskou hierdie inmengery as ’n aanval op sy persoon.

“Ek het die saak deur die regte kanale hanteer,” is al wat mnr. Kanguatjivi oor die struweling wou sê. “Die wet op die NFC is baie duidelik oor wat my pligte is,” het hy gesê.

“As iemand ’n probleem daarmee het, sal hulle die wet moet wysig.”

Volgens mnr. Kanguatjivi probeer hy net sy bes vir die plaaslike rolprentbedryf en Struggle, maar dit kom die heeltyd voor of ander hom weens ongure motiewe wil kelder. Die strydrolprent waarvan die boeke nou by ’n ouditeur is, kan volgens hom steeds ’n hele klompie miljoen dollar minder kos as die N$80 miljoen wat bewillig is.

Die permanente sekretaris van Inligting en Kommunikasietegnologie, mnr. Mbeuta Ua-Ndjarakana, het die leningsaansoek by die DBN bestempel as ’n “vennootskap” wat nie net vir die Nujomarolprent is nie, maar wat ook ander ontwikkelingsprojekte vir die plaaslike rolprentbedryf sal help finansier.

Volgens hom kan sy Ministerie egter nie kollateraal verskaf nie en sal by die Ministerie van Finansies en dalk ander ministeries aangeklop moet word. Volgens mnr. Ua-Ndjarakana behoort hy vroeg in die komende week meer inligting te hê.

Mnr. Renier van Rooyen, waarnemende hoof uitvoerende beampte by die DBN, het bevestig dat die bank ’n aansoek van die NFC ontvang het vir “oorbruggingsfinansiering” vir die verdere bemarking van die rolprent en dat dit terugverwys is in afwagting op kollateraal, “dalk in die vorm van ’n waarborg.”

“Die DBN is ywerig om Namibië se jong filmbedryf te bevorder,” het mnr. Van Rooyen skriftelik op die koerante se vrae gereageer, “en is gereed om vatbare projekte te finansier teen die agtergrond van ’n raamwerk wat die volhoubare groei van die bedryf bevorder.

Dit is in hierdie verband dat die bank voorgestel het dat ’n vennootskapooreenkoms oorweeg word om die beste manier te vind om hierdie doelwit te bereik. Die bank wag ook op ’n voorstel van die NFC in hierdie verband.”