18.09.2009 Stemratte brand vas
 Die ECN se registrasiebeamptes in die Oshana-streek kon nie gister betyds na hul onderskeie registrasiepunte vertrek nie en diegene wat wel betyds vertrek het, moes tot sowat 13:00 rondstaan en wag vir die registrasiemateriaal wat te laat na registrasielokale gestuur is. Hierdie foto is gisteroggend voor die polisiekantoor op Oshakati geneem waar ECN-beamptes tot middagtyd gewag het.
DIE aanvullende registrasieproses het gister in chaos afgeskop met slegs enkele van die 560 registrasiepunte wat gereed was om voornemende kiesers vir die algemene en Presidents-verkiesings te registreer.
Die Verkiesingsdireklteur, mnr. Moses Ndjarakana, moes gister met ‘n rooi gesig vir die publiek om verskoning vra vir die probleme wat met die eerste dag van registrasie ondervind was en verduidelik dat al die materiaal nog nie in Windhoek aangekom het nie. “Soos ons nou hier sit, is daar van die registrasiepunte wat nog nie gereed is om kiesers te registreer nie. Die laaste vrag materiaal wat met die druk van die foto’s op registrasiekaarte verband hou, sal teen môre (vandag) tussen 07:00 en 08:00 vanaf Johannesburg in Windhoek aankom.”
Volgens mnr. Ndjarakana is doeanebeamptes by die lughawe Oliver Tambo in Johannesburg op ‘n staking en die materiaal moet eers deur hulle vrygestel word voordat dit per vliegtuig vervoer kan word. Dit het meegebring dat die vervoer van die materiaal nou per pad gedoen word en dit kos die Verkiesingskommissie glo sowat N$500 000 duurder.
Die ander probleem, volgens mnr. Ndjarakana, is dat die Regering nie al die 716 voertuie aan die ECN oorhandig het om die registrasie van kiesers landwyd te kan doen nie. Nog 300 voertuie is uitstaande, maar mnr. Ndjarakana is vol moed dat die probleem ook vandag opgelos sal word.
“Ons het ‘n vergadering met die politieke partye gehad en hulle oor die toedrag van sake ingelig. Ons het saam besluit dat die situasie weer in oënskou geneem sal word sodra alles genormaliseer is. Dan sal bepaal word watter impak die aanvanklike probleme op die proses gehad het. Ons sal besluit watter stappe is nodig om die registrasies suksesvol te laat verloop, al beteken dit dat meer beamptes aangestel word om met die registrasie te help of dat die ure verleng word om te sorg dat almal wat wil registreer, dit wel kan doen,” het mnr. Ndjarakana gesê.
Die registrasieproses duur tot 30 September en voornemende kiesers hoef nie nou vir die munisipale verkiesings van aanstaande jaar te registreer nie. Diegene wat wel oor bewyse beskik dat hulle 12 maande of langer by dieselfde woonadres woon, kan nou al ook vir die munisipale verkiesings registreer.
|