25.02.2010 Spesiale aandag aan noorde-parke
 Die ambassadeur van Duitsland, mnr. Egon Kochanke, en die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, tydens die hoeksteenlegging van die Mahango Parkstasie in die Bwabwata Nasionale Park.
DIE ontwikkeling van infrastruktuur by nasionale parke in die noordooste van die land is belangrik vir beter ekonomiese gebruik van parke deur toerisme en volhoubare parkbestuur, terwyl toerisme bykomende werkgeleenthede sal skep.
Nuwe kantore, behuising vir personeel, instandhoudingsgeriewe en ’n ontvangskantoor vir toeriste word in die Bwabwata Nasionale Park gebou as deel van Duitsland se finansiële steun vir die Namibiese regering se ontwikkeling- en bewaringsinisiatiewe in die noordooste.
Tydens ’n hoeksteenlegging by die Mahango bestuurstasie in die Bwabwata Nasionale Park het die ambassadeur van Duitsland, mnr. Egon Kochanke, gesê Namibië en Duitsland het lankal die belangrike bydrae agtergekom wat nasionale parke tot ekonomiese ontwikkeling maak.
Die Minister het by die geleentheid ’n Projek Implementeringsooreenkoms met die Duitse Ontwikkelingsbank (KfW) onderteken om die ontwikkeling van Namibië se vier noordoostelike nasionale parke (Bwabwata, Mudumu, Mamili en Khaudum) met sowat N$33 miljoen te ondersteun.
In die toekoms sal die vier parke die geografiese kernpunt van die beplande Kavango-Zambezi Oorgrensbewaringsgebied (KAZA TFCA) vorm.
“Die bevordering van volhoubare toerisme is ’n doeltreffende strategie om groei en werk te verbeter en dus armoede te verminder.”
In 2008 was die voordeel vir die plaaslike bevolking (sowat 10 000 mense) uit parke in die noordooste bykans N$2,2 miljoen en het parkbestuur dus ’n belangrike bydrae tot die vermindering van armoede in die streek gelewer.
Die groot bydrae wat nasionale parke tot ekonomiese ontwikkeling maak, word ook deur bykomende werke uitgebeeld wat met meer toerisme geskep word, het mnr. Kochanke gesê.
Die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het terselfdertyd die Duitse regering bedank vir hul steun aan natuurlike hulpbronbestuurprogramme.
Tydens onlangse bilaterale samesprekings het die Duitse regering ’n verdere N$71 miljoen ter ondersteuning van die parke beloof wat ook die Khaudum Nasionale Park sal insluit. Dit stoot die totale finansiële bydrae aan parke in die noordooste tot N$138 miljoen op. Me. Nandi-Ndaitwah sê die steun van die Duitse regering is ’n welkome inspuiting in die ekonomie van Namibië.
Dit sal baie help om landelike armoede te verminder en die Millenium Ontwikkelingsdoelwitte te bereik terwyl dit parke sal verander in gewilde bestemmings vir toeriste wat na natuurondervindings op soek is.
Tydens fase een van die Bwabwata-Mundumu-Mamili (BMM) Projek is N$26 miljoen gebruik vir die voorsiening van toerusting, opleiding, parkbestuursplanne en infrastruktuur by parke in die noordooste. Die Mahango parkbestuurstasie is die eerste in die noordooste wat met dié geld gebou word. In Bwabwata Park is tans drie toerisme- en een jagkonsessie aan inwoners van naburige gemeenskappe toegeken en nog ander word beplan.
Deur die konsessies word ekonomiese bemagtiging van die gemeenskap beoog deur werkskepping sowel as eienaarskap van ekonomiese bates.
Die inwoners van Bwabwata Nasionale Park word ook toegelaat om duiwelsklou binne die park te pluk. Duiwelsklou is ’n beskermde plant wat oorsee in groot aanvraag is. Wetenskaplike bewyse ondersteun die siening dat die wortel van duiwelsklou pyn en inflammasie by mense met artritis en ander pynlike siektes kan verlig.
Vanjaar is 530 duiwelsklou- plukkers geregistreer en opgelei en sal tydens die oestydperk gemonitor word. Dit is die eerste jaar wat organiese sertifisering vir duiwelsklou in ’n nasionale park toegeken is.
Meeste van die plukkers is ouer vroue en hulle kan tussen N$800 en N$1 000 elk vir hul oeste ontvang. Dit is ’n duidelike aanduiding van hoe nasionale parke help om armoede in die mees gemarginaliseerde gebiede te verminder, volgens me. Nandi- Ndaitwah. Die Minister sê Namibië sal vanjaar spesiale aandag op parke plaas.
Die Verenigde Nasies het 2010 as Internasionale Jaar van Biodiversiteit verklaar. Vanjaar is ook die 20ste bestaansjaar van die Mudumu en Mamili Nasionale Parke, terwyl die Bwabwata Nasionale Park twee jaar gelede geproklameer is.
“Geld van die Duitse regering het ons in staat gestel om bestuursplanne vir die park op te stel, toerisme-ontwikkelingsplanne op te stel, kantore en behuising vir personeel te bou, toerusting te koop en personeel op te lei. Sodoende word die noordooste van Namibië geposisioneer om die hart van Suider-Afrika se mees belowende bewaringsinisiatief te word,” het die Minister gesê.
Volgens haar is parke in die noordooste van Namibië uniek aangesien dit die land se riviere, vleilande, boslande, ryk biodiversiteit en menslike geskiedenis huisves. Dit bevat ook die grootste olifantbevolking en ’n groot verskeidenheid ander wildspesies, terwyl tweederdes van Namibië se voëlspesies hier gevind word, insluitend sommige voëls wat as Rooi Data-spesies gelys is.
Namibië is een van die belangrikste vennootlande van Duitse ontwikkelingsamewerking in sub-Sahara Afrika en die land ontvang die hoogste per capita geldelike bystand wêreldwyd. Duitsland se amptelike ontwikkelingsbystand (ODA) aan Namibië sedert onafhanklikwording in 1990 beloop meer as N$6,8 miljard.
Vir die tydperk 2009/2010 het die Duitse regering verlede jaar N$1,3 miljard vir programme en projekte in die raamwerk van Duitse Namibiese Ontwikkelingsaamwerk toegeken. Dit is die hoogste toekenning van Duitse ontwikkelingsamewerking met Namibië sedert samewerking in 1990 begin is en beeld die belofte uit wat Duitsland in 2004 gemaak het om ontwikkelingsbystand aan Namibië te verdubbel.
Een van die hoofsektore van samewerking tussen die twee lande is natuurlike hulpbronbestuur. Projekte wat ondersteun word, wissel van gemeenskapgedrewe bosbou, waterbestuur, biodiversiteit en ondersteuning om grond te hervorm en nasionale parkontwikkeling.
|