DIE Speaker, mnr. Theo-Ben Gurirab, het onlangs besoek in Indië afgelê en volgens hom was hy besonder beïndruk met wat hy daar gesien en ervaar het. Hoe die land daarin geslaag het om ekonomiese uitdagings die hoof te bied en om verkiesings binne ’n dag aan te bied met ’n bevolking van 1,8 miljard mense, het hom verbaas. Gevra oor hoe Namibië se parlementêre demokrasie na twee dekades vaar, het hy die volgende gesê.
“Ek moes diep dink om aan enige ander Afrika-land te dink wat gedurende die eerste 20 jaar ná onafhanklikwording nie die een of ander groot versteuring of omwenteling ondergaan het nie, hetsy staatsgrepe, burgeroorlog of die sluipmoord van staatshoofde of politieke leiers.
“Met die uitsondering van Namibië, kon ek net aan Botswana dink. Die geskiedenis van dié twee lande verskil hemelsbreed. Namibië het onafhanklik geword na ’n lang en bitter militêre stryd. Botswana daarenteen, se koloniale heerser, Brittanje, het bloot moeg geword om oor ’n woestynland te regeer en het in die 1960’s die land sy onafhanklikheid gegee. Dit was natuurlik voor Botswana se ryk minerale neerslae, veral diamante, ontdek is.
“In ons geval was die bevrydingstryd lank uitgerek vanweë Namibië se strategiese geografiese ligging en ook vanweë die ryk natuurlike hulpbronne.
“Vanaf 1990 tot nou het ons geen grootskaalse versteurings gesien of beleef nie.
“Ons demokrasie is gegrond op die politieke partylyste waarvolgens lede van die Nasionale Vergadering verkies word. Dit verskil van die kiesafdelingstelsel waar lede regstreeks deur hul kiesafdelings verkies word. Die President word regstreeks deur die kiesers verkies. Ná sy verkiesing moet die President ’n Kabinet saamstel wat bestaan uit verkose lede van die Parlement.
“In ’n kiesafdeling-bedeling is lede wat verkies word, geneig om meer lojaal aan hul kiesafdelings te wees en nie noodwendig aan ’n politieke party nie. In ons bedeling is dit anders en diegene wat volgens die partylysstelsel verkies word, is hul setels in die Nasionale Vergadering aan die party waaraan hulle behoort te danke.
“In Namibië se geval word die parlementêre sake grootliks beheer deur die ministers en adjunkministers en nie deur agterbankers of lede van die opposisie nie. Die minister stel die agenda van die Regering op. Dit is hul taak om die manifes van die regerende politieke party om te skakel in beleidrigtings en wetgewing omdat hulle op grond van die inhoud van die manifes, ’n verkiesingsveldtog gevoer het en die meerderheid kiesers met die manifes oortuig het om vir hulle te stem.
“Die leier van die Regering se sake in die Nasionale Vergadering is die Eerste Minister wat verantwoordelik is om dit wat deur die Kabinet goedgekeur is, te implementeer. Hy of sy word deur die ministers bygestaan om dryfkrag aan die beleidskeuses en wetgewende programme te gee. Die Regering se beleid stem dus ooreen met die manifes van die party wat die oorwinning in die verkiesing behaal het.
“In Namibië het Swapo die afgelope 20 jaar die oorheersende rol in die Parlement gespeel. Dit is toe te skryf aan die feit dat daar nie werklike ernstige klagtes is oor hoe die land regeer word nie en dat daar niks werklik is wat die demokrasie bedreig nie. Die kiesers is van mening dat dit die beste is wat gedoen kan word, al is daar steeds vrae oor ons gesondheidstelsel, onderwys, die lot van die jeug en van bejaardes.
“Ons het die afgelope 20 jaar ook ’n mengelmoes opposisiepartye gehad. In 1990 met die eerste Parlement, het die opposisie met mense van statuur, werklike swaargewigte, wat die rol van die opposisie verstaan het, vorendag gekom. Daar was die gevoel dat die opposisie van vandag die regering van môre kan wees omdat hulle van mening is dat hulle beter as die regerende party kon doen.
“Ongelukkig het die opposisie algaande agteruit gegaan tot die punt waar hulle nou eintlik hopeloos is. Ná die afgelope verkiesings sal ons ’n nuwe situasie in die Nasionale Vergadering hê, wat miskien net vergelyk kan word met 1999 toe die Congress of Democrats gevorm is. ’n Nuwe amptelike opposisie sal vanjaar sy verskyning in die Nasionale Vergadering maak, naamlik die Rally for Democracy and Progress (RDP). Ons sal maar moet wag en sien wat die toekoms inhou wanneer die vyfde Namibiese Parlement open.
“Oor die algemeen het ons rede om tevrede te wees. Daar is natuurlik plekke waar ons beter kon gevaar het, soos met die ekonomie. Ons het nou meer monde om te voed en staar meer eise van die burgerlike gemeenskap in die gesig. Die ekonomie moet met ten minste sewe of agt persent groei as ons hoop om Visie 2030 ’n werklikheid te maak. Daar lê reuse-uitdagings voor. Ons het ook nog nie vroue voldoende bemagtig wat politiek, entrepreneurskap en die ekonomie betref nie.
“Die jeug huil, want baie van hulle sit met universiteitsgrade of senior sekondêre sertifikate, maar hulle kan nie werk kry nie. Slegs deur die ekonomie te laat groei, kan ons geleenthede vir hierdie mense skep.
“Ons kan baie dankbaar wees dat ons tot nou toe enige groot ontwrigtings vrygespring het. Tog is ek nie seker of ons burgers reeds die stadium bereik het waar hulle in staat is om onderskeid te tref tussen die geskiedenis, die erflating van persoonlikhede en geskiedkundige figure en die kwessies van veiligheid, sekuriteit en maatskaplike welsyn nie. Ons het beleidsrigtings en wette nodig wat deur die Parlement aanvaar moet word wat aanpas by ’n ope samelewing wat ’n rol in ontwikkeling kan speel.
“Ek was onlangs op ’n besoek aan Indië en is herinner aan hoe die Westerse wêreld in die 1960’s toe ek in Amerika gestudeer het, neerhalend van lande soos Indië, Maleisië en China gepraat het. Die soort leiers wat Indië gehad het, het egter gefokus op die ekonomie en hulself verander. China en Indië het die wêreld se grootste bevolkings. In China is meer as 2 miljard mense en in Indië 1,48 miljard wat gevoed en opgelei moet word. Deesdae weet die mense hoe om voedsel te produseer en elke denkbare geleentheid aan te gryp om meer vaardighede op te doen. Hulle kyk nie meer na die regering om hulle te voed nie. Hulle beskik oor vaardighede en kan dit bemark en self sorg vir mediese koste en betaal om hul kinders na die skole van hul keuse te stuur.
“Ek is lief vir die geskiedenis, maar ons het nou die punt bereik waar ons mense vaardighede moet ontwikkel om te leer om welvaart vir hulself te skep. Hulle moet vaardighede hê om self beheer oor hulle lewens te neem.
“Die toekoms is vol uitdagings. Ons sit met ’n werkloosheidsyfer van meer as 40 persent. Dit is te hoog vir ons land. Ons het swart ekonomiese bemagtiging gedoen en ’n nuwe elite geskep wat met blink motors rondry en reusehuise bou. Tog is ons steeds volgens die Ginikoëffisiënt die land met die grootste gaping tussen ryk en arm. ’n Handjievol mense is baie ryk en die res is baie arm. Dit gaan nou al vir 20 jaar so en dit kan nie so voortgaan nie. Ons moet net die ekonomie laat groei.
“Voorts moet ons die verkiesingstelsel regkry. Dit is ’n verleentheid soos dit nou gaan. In Indië met ’n bevolking van 1,48 miljard stem hulle in een dag en die uitslae is ure na die stembusse gesluit het, bekend. Daar is geen verskoning dat verkiesings vir die President en die nasionale vergadering oor twee dae gehou moet word nie.
“Op die politieke front staar ons die uitdaging van politieke onverdraagsaamheid in die gesig. Dit kom in baie verskillende vorms, van die regerende party, die opposisiepartye, selfs die kerke. Ons moet ten alle koste leer om verdraagsaam te wees en mekaar te respekteer en na mekaar te luister. Demokrasie beteken die verwerwing van wysheid en verdraagsaamheid,” het mnr. Gurirab gesê.
Volgens inligting uit die biblioteek van die Parlement het die Nasionale Vergadering van 1990 tot einde 2009 altesaam 510 wetsontwerpe aanvaar.
“In 2009 het die Nasionale Vergadering vir 59 dae gesit, sewe wetsontwerpe is ter tafel gelê waarvan vier sonder wysigings en drie met wysings aanvaar is, twee wetsontwerpe is heroorweeg, vier konvensies, ooreenkomste en beleidstukke is ter tafel gelê waarvan al vier aanvaar of bekragtig is.
“Kyk ’n mens terug na die sittings van die eerste paar Nasionale Vergaderings, is dit ’n toonbeeld van die geboorte van ’n jong demokrasie en nasie.
“Die eerste wetsontwerp wat aanvaar is en wet geword het in ’n onafhanklike Namibië, was die wet op die nasionale landswapen. Kort op sy hakke was die wet op die staatsdienskommissie gevolg deur die wet op gebiedswaters en die eksklusiewe ekonomiese sone van Namibië, die wet op die toekenning van magte, die wysigingswet op pensioensake van Regeringsinstansies, die Ombudsman en die Bank van Namibië.
“Ander interessante wetgewing sluit in die wet op Namibiese burgerskap, die wet op die Hooggeregshof en op die Hoërhof en die wet op openbare vakansiedae.
“In 1991 is die wet op die volkslied en die wet op die verbod op rassediskriminasie aanvaar.”