Spanning laai op oor geskorste Karas-hoës

Die raad het gistermiddag ?n dringende vergadering gehou om die kwessie te bespreek en te besluit watter stappe om te doen.

Teen druktyd gisteraand was die vergadering steeds in volle gang, met ?n aanduiding dat ?n uitsettingsbevel as moontlikheid oorweeg word.

?Vir solank hulle nog elke dag kantoor toe kom, kan die Ministerie van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling nie die klagte teen hulle ondersoek nie,? het ?n bron gesê.

Republikein het ook verneem dat die Karasstreekraad Vrydag reeds hul handtekeninge by banke gekanselleer het, wat beteken hulle kan nie meer namens die raad tjeks onderteken nie.

?Hierdie twee saboteer ontwikkeling in die streek en dit kan nie langer so voortgaan nie,? het die bron gesê. Intussen groei die klagskrif teen Kahuika en Stephanus byna weekliks, met die jongste aanklag teen hulle die eensydige opskorting van ?n kontrakteur se tender van sowat N$7 miljoen vir die ontwikkeling van ?n rioolnetwerk op Ariamsvlei. Skyhigh Constructions and Renovations CC dreig die raad nou met regstappe in die verband.

Mnr. Jan Scholtz, voorsitter van die Karasstreekraad, het by navraag gesê die brief wat op 4 April vanjaar aan Skyhigh gestuur is oor die beëindiging van sy kontrak, het geskied sonder die toestemming of medewete van die raad.

?Die besluit is eensydig deur Stephanus en Kahuika, asook die sekretaris van die tenderraad, mnr. Ralph Sachika en mnr. Klaus Jacobi van Lithon Project Consultants geneem.?

Dié kontrakteur se prokureur, mnr. Richard Metcalfe, het die raad tot 8 Junie tyd gegun om die kwessie te beredder, waarna regstappe gedoen sal word. Die sperdatum is nie nagekom nie.

Die ander klagte teen Stephanus en Kahuika hou verband met ?n ongemagtigde reis van N$160 000 na Suid-Korea, die feit dat hulle sonder toestemming van die raad ?n tjek ten bedrae van N$1,8 miljoen aan Hektas Fashion uitgereik het ná die onderneming se eienaar, mnr. Henry Jongwe, skadevergoeding geëis het vir die kansellering van ?n tender, asook gebrekkige beplanning wat kapitaalprojekte in die streek betref.

Scholtz sê dit is veral laasgenoemde klag waaroor die raad baie bekommerd is. Hy sê die betrokke Minister, mnr. Jerry Ekandjo, het ook reeds sy ontevredenheid uitgespreek met die feit dat die Karasstreek vir geen groot kapitaalprojekte tot en met 2014 voorsiening gemaak het nie.

?Die Minister het ons uitdruklik versoek om vroegtydig ons beplanning in te dien sodat wanneer die aansoeke by die Nasionale Beplanningskommissie ingedien word, geen oponthoud sal voorkom is nie. Dit het Stephanus en Kahuika nie gedoen nie.

?Hul skorsing en die beplande ondersoek is nie ?n heksejag nie. Dit spruit uit eenparige kommer van die raad se kant dat tegnokrate soos hulle die streek se mense in die steek laat,? sê Scholtz.