
Maxwell Spanneberg.
MAXWELL Spanneberg (32), die meesterbrein agter die bedrogskema wat vier jaar gelede by die Maatskaplike Voorsorgfonds (MVK) aan die lig gekom het, is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.
Landdros Sarel Jacobs het Vrydag in sy vonnisuitspraak gesê twee van die sewe jaar tronkstraf is opgeskort en Spanneberg sal dus vyf jaar moet uitdien.
Spanneberg is die afgelope twee maande in aanhouding nadat hy vroeg in Desember skuld op 87 klagte van bedrog beken het.
Hy is die hoofbeskuldigde in die bedrogsaak waarin 64 mense aangekla is van korrupsie of bedrog wat tussen 2001 en 2006 by die MVK gepleeg is toe siekteverlofeise vervals is.
Die medebeskuldigdes het gedien as kontakpersone tussen Spanneberg en die MVK-lede wie se eise vervals is. Hy het ook tydens sy skulderkenning gesê hy is bereid om as staatsgetuie teen sy medebeskuldigdes op te tree. Die staat het dit so aanvaar.
Hy het ’n derde van die geld ontvang wat aan lede uitbetaal is. Die MVK het ongeveer N$450 000 se siekteverlofeise uitbetaal, waarvan Spanneberg se aandeel sowat N$150 000 beloop het.
Hoewel Spanneberg in Desember 2006 op borg van N$15 000 vrygelaat is, het landdros Jacobs na sy skulderkenning sy borgtog gekanselleer en gelas dat hy tot en met die vonnisoplegging in aanhouding bly.
Mnr. Jan Wessels is Spanneberg se regsverteenwoordiger, terwyl mnr. Simba Nduna as staatsaanklaer optree.