24.08.2009 Smit loop by RP
DIE Republikeinse Party (RP) se stadsraadslid vir Windhoek en gekoöpteerde lid vir die party se bestuurskomitee, mnr. Nico Smit, het uit die party bedank.
Dit volg nadat hy deur die party se Khomas-streekraad geskors is en weens onversoenbare verskille met die president van die RP, mnr. Henk Mudge, nie kans gesien het om as lid aan te bly nie. In sy kort verklaring beskuldig mnr. Smit die partyleier van kortsigtigheid en onwilligheid om die slepende krisis in die leierskap doeltreffend aan te spreek.
Voorts is hy van mening dat mnr. Mudge sy posisie as leier misbruik het wat hom met geen alternatief laat as omte bedank as partylid en as stadsraadslid van Windhoek nie.
Mnr. Mudge sê verskeie geleenthede was geskep vir mnr. Smit om sy griewe te lig en om oplossings daarvoor te vind. Hy het egter die afgelope week nie die RP-bestuursvergadering asook die uitvoerende komitee vergadering bygewoon nie.
“Dit was nie my besluit om mnr. Smit te skors nie, maar die besluit van die Khomas-streekraad. Hulle het probleme met hom gehad wat strek van beweerde gevalle van rassisme tot gebrek aan dissipline.
“Daarom is mnr. Smit ook as koordineerder van die party in Katutura onttrek. Ek moet erken dat mnr. Smit uitstekende werk as raadslid gedoen het. Sy bedankingis dus vir my mostert na die maal.”
Mnr. Mudge sê die beweringe wat mnr. Smit maak, is absurd en hy kan rekenskap gee van elke sent wat die party bestee het.
“Gerugte het by my uitgekom dat mnr. Smit nie met my as leier tevrede is nie, maar hy het nooit self met my oor sy probleme gepraat nie. Hy het glo ook ’n vergadering gehou met van die ander RP-raadslede wat na die hoof uitvoerende komitee vergadering gekom het, maar dit lyk asof hulle hulle nie aan hom gesteur het nie,” het mnr. Mudge gesê.
Die RP hou oor sowat drie weke ’n kongres en mnr. Mudge sê indien die lede nie met hom tevrede is nie, kan hulle ’n ander leier by dié geleentheid kies.
|