28.08.2009 Smit antwoord Mudge
DIE Republikeinse Party se geskorste stadsraadslid vir Windhoek, mnr. Nico Smit, het Woensdag teruggekap na aanleiding van die verklaring wat die RP-president, mnr. Henk Mudge, oor die skorsing uitgereik het en sê sy skorsing was ongrondwetlik. Hy betwis ook die aanspraak deur mnr. Mudge dat die Khomas streekkomitee mnr. Smit geskors het, omdat so ’n komitee volgens mnr. Smit nie bestaan nie.
Volgens artikel 14.1 van die RP grondwet bestaan streekkomitees uit die voorsitter, visevoorsitter, administratiewe sekretaris en sekretaris van finansies van elke tak in die streek saam met verkose lede van streekrade en plaaslike owerhede in die streek. Ingevolge Artikel 13.2 van die RP grondwet moet nuutgestigte takke goedgekeur word deur die uitvoerende komitee van die party.
“Ek daag mnr. Mudge weer uit om die notule van die uitvoerende komiteevergadering te wys waar hierdie takke wat die Khomas streekkomitee vorm, goedgekeur is,” sê mnr. Smit. Hy wys daarop dat hy verlede Woensdagmiddag in kennis gestel is van die bestuursvergadering wat vir Donderdag 20 Augustus beplan is, met ’n agenda.
Die agenda toon nie enige besprekingspunte oor moontlike skorsings nie. Hy ontken ook dat hy aangedui het dat hy die vergadering sou bywoon. “Ek sou gedink het die skorsingsbrief sou in die eerste plek aan my, in my hoedanigheid as stadsraadlid en dus lid was van die veronderstelde Khomas streekkomitee, gestuur word.
“Tot nou toe het ek geen kommunikasie in dié verband ontvang nie en is ook nie genooi om enige vergadering van die Khomas streekkomitee by te woon nie.” Hy ontken ook dat hy ’n boodskap gestuur het dat hy nie Donderdag se vergadering sou bywoon en eerder sy saak op die uitvoerende komiteevergadering verlede Vrydag sou stel nie. Hy sê hy was glad nie van plan om die vergadering by te woon nie en daag mnr. Mudge uit om te sê wie die sogenaamde boodskap oorgedra het.
“Aangesien ek nie ingelig is oor die skorsing nie, watter saak sou ek op die uitvoerende komitee vergadering wou stel?” vra mnr. Smit. Mnr. Daan Holtzhausen het volgens hom die vergadering Donderdagaand by mnr. Smit se huis bygewoon, maar geen melding gemaak van die bestuursvergadering nie.
Mnr. Smit wys in sy verklaring daarop dat die uitvoerende komitee van die RP volgens artikel 15 van die party se grondwet bestaan uit die president van die party, die visepresident, voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris-generaal (dié posisie is vakant), die hoof uitvoerende beampe (vakant), die uitvoerende administratiewe beampte (vakant), uitvoerende administratiewe sekretaris (vakant), die sekretaris vir finansies (vakant); een verteenwoordiger van elke streekkomitee (geen streekkomitees bestaan volgens hom nie); lede van die Nasionale Vergadering (daar is net een en hy is ook die president van die party); lede van streekrade (geen); lede van plaaslike owerhede (agt, insluitend die visepresident van die party, mnr. Deon Verster van Outjo, wat nie ’n lid van die RP is, maar van die belastingbetalersvereniging en dus nie kwalifiseer nie); een verteenwoordiger van die vroueraad (wat nie bestaan nie omdat hulle nog nie ’n kongres gehou het nie), een verteenwoordiger van die jeugraad (wat om dieselfde rede nie bestaan nie) en die voorsitters van spesialiskomitees, wat geen stemreg het nie.
Volgens mnr. Smit was “streekkoördineerders” Vrydag deel van die uitvoerende komiteevergadering, maar in die grondwet van die party word geen melding van streekkoördineerders gemaak nie. Voorts sê mnr. Smit die aantal lede van die uitvoerende komitee was slegs 10 aangesien mnr. Verster nie ’n lid van die RP is nie.
“Gevolglik was daar by dié vergadering ná mnr. Holtzhausen se vertrek, net mnre. Henk Mudge, G. Chilinda, Pieter Visser, Niklaas Rooi en me. Clara Gowases teenwoordig en nie genoeg vir ’n kworum nie en gevolglik was ’n voortsetting van die vergadering ongrondwetlik.
Mnr. Smit hou ook vol dat mnr. Mudge die finansies van die RP wanbestuur en nie binne die riglyne van die finansiële komitee bly nie; dat hy mense arbitrêr aanstel en self op hul salarisse besluit; vergaderings en reise reël sonder beraadslaging met die finansiële komitee en sonder toestemming deur die party en ook die regulasies aangaande die uitreiking van tjeks ignoreer.
|