
Mnr. George Simataa
“COLLECTIVE stupidity,” was mnr. George Simataa, permanente sekretaris van Werke en Vervoer, se reaksie op beweringe in ’n plaaslike weekblad dat hy ’n tender aan sy studietoesighouer toegeken het om hom ’n kursus te laat slaag.
Mnr. Simataa het ook aantygings in ’n ander weekblad weerlê dat die Ministerie die meerderheid van sy tenders aan Chinese maatskappye toeken.
Op ’n nuuskonferensie Donderdag het mnr. Simaata gereageer op aantygings in die media dat die meeste tenders vir padkonstruksiewerk in Namibië van die Namibiese Paaie-owerheid (RA) aan Chinese maatskappye toegeken word (Observer van 6 Maart), asook ’n berig dat hy aan sy eie studietoesighouer, prof. Lovemore Mbigi van die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie in Zimbabwe, ’n tender van N$2,04 miljoen toegeken het sonder dat dit geadverteer is, in ruil dat hy sy kursus slaag (Informante, 25 Februarie en 4 Maart).
Mnr. Simataa wou nie tydens die konferensie inligting verskaf oor die proses van die tender wat aan prof. Mbigi toegeken is nie, omdat die beweringe tans deur die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) ondersoek word.
Hy het beklemtoon dat ’n toesighouer nie in die posisie is om ’n student se uitslae te beïnvloed nie, maar slegs daar is om die student te begelei en vir eksamens te help voorberei.
Oor die beweringe van Chinese voorkeur met die uitreiking van tenders het mnr. Simataa ’n lys van al die RA-projekte vir die afgelope twee jaar beskikbaar gestel, met die name van elke kontrakteur aan wie die tenders toegeken is.
Hy het ’n enkele projek uitgelig waarby die enigste Chinese maatskappye betrokke is en gesê die meeste mense wat voordeel trek by projekte, is Namibiërs. Hy meen al die kontrakprojekte vir klein- en mediumondernemings (SME’s) word aan Namibiese maatskappye toegeken, maar omdat kapitale projekte soms deskundigheid vereis wat nie in die land is nie, moet sulke tenders ook in die buiteland geadverteer word.
Hy het spesifiek verwys na die Rundu-Nkurenkuru fase van die Rundu-Elundu opgraderingsprojek wat gedeeltelik deur die Japannese Internasionale Samewerkingsagentskap (JICA) befonds word.
Hy sê hierdie tender is internasionaal geadverteer en JICA het die aanbeveling deur die RA goedgekeur om die konstruksiemaatskappy China Henan International te kies omdat die maatskappy die beste tegniese en finansiële bod ingedien het.
“Dit is gepas om te noem dat dit die enigste Chinese maatskappy is wat betrokke is by padkonstruksiewerk in Namibië,” het mnr. Simataa gesê.