|
Republikein
|
|
|
24.02.2010 Siek en oud doen hul plig![]() Tannie Nettie Gous stem by Sonder Sorge, ‘n oord vir bejaardes.
Tannie Nettie Gous, op 92 Sonder Sorge se tweede oudste inwoner, het vanmiddag pligsgetrou in haar rolstoel haar kruisie getrek in vandag se tussenverkiesing op Okahandja.
“Ons moet bid vir die stemming dat dit goed gaan,” het sy na die tyd gesê. “En dat ons die regte man kry.”
Tante Maritza Maritz is op 96 die oudste inwoner van die oord vir bejaardes. Sy kan egter nog net tussen haar leunstoel en bed beweeg. Om tot by die stempunt te kom, is vir haar ‘n te groot inspanning. Oor die feit dat stembusse nie van kamer tot kamer na oues van dae en bedlêende pasiente in die dorp se staatshospitaal geneem word nie, het die hoofkiesbeampte, mnr. Edward Hauanga, verduidelik dat ‘n spesifieke proklamering nodig is om so-iets toe te laat. Volgens hom is dit ‘n kwessie van moraliteit teenoor wet en regulasies, waaroor sekere partye dalk besware sal he as ‘n stembus nie goed genoeg bewaak is nie. By die staatshospitaal is ‘n tent in ‘n kits buite opgeslaan sodat personeel, pasiente en ander inwoners in die omgewing teen 14:00 kon begin stem. Die proses hier was net enkele minute vertraag.
Volgens die toesighoudende beampte van die mobiele span het sake voor dit ook klipdisselboom geloop by die polisieselle op die dorp.
Partya-gente hier was weer doodtevrede. Ondanks gerugte van ongerymdhede wat reeds broei, het mnr. Hauanga benadruk dat nog geen noemenswaardige probleme onder sy aandag gebring is nie. Die stembusse sluit vanaand om 21:00, met die telproses wat dadelik sal afskop sodra die laaste kiesers gehelp is. Voorlopige uitslae word rondom middernag verwag, en die finale, geverifieerde syfers later Donderdagoggend. ![]() Die vrou was die eerste pasiënt by die staatshospitaal om haar kruisie te trek. Die ander siekes het nog na hul kieskaarte gesoek. Dani Booysen op Okahandja |
|