22.09.2008 Sentrum vir diabetes in Windhoek geopen
DIE Namibiese Diabetes-opvoedingsentrum (Nadec) wat daarop gemik is om die lewens van mense met die siekte deur middel van inligting en hulpdienste makliker te maak, open vanaand amptelik sy deure in Windhoek. Die sentrum vorm deel van die uitgebreide reeks gesondheidsdienste wat die Paramount Gesondheidsorgsentrum aan inwoners van Windhoek bied.
Nadec se diens aan diabete sal egter wyer as net Windhoek strek en diabete van dwarsoor Namibië kan hier om inligting en bystand kom aanklop. “Diabetes is ’n ernstige, maar beheerbare siekte. In 2002 het 177 miljoen mense wêreldwyd hieraan gely en die aanduiding is dat die syfer in 2030 op 377 miljoen gaan staan,” het me. Miranda Burger, praktykbestuurder by die Paramount Gesondheidsorgsentrum, gesê.
“Ongediagnoseerde, onbehandelde en verwaarloosde diabetes kan tot ernstige en lewensgevaarlike gesondheidstoestande soos hartaanvalle, beroertes en nierversaking lei – daarom is dit belangrik dat mense hieroor ingelig word.” Me. Burger sê Nadec sal in samewerking met dokters, biokinetici, oogkundiges en dieetkundiges probeer om die beste moontlike behandelingen leefstylplan vir lyers uit te werk.
Daarbenewens sal dit ook mense wat deur hul ongesonde leefstyle gevaar staan om tipe 2-diabetes te ontwikkel, help om die regte leefstylaanpassings te maak. “Diabetes, of suikersiekte soos die ouer garde dit ken, is in baie opsigte ’n sluipende siekte. Sluipend, omdat ’n mens dit nie kan sien nie. Dit is nie soos masels of waterpokkies of geelsug nie.
Jy sien niks. En dit is waarin die eerste gevaar van diabetes verskuil lê: wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie, lui die spreekwoord immers.” Maar as iemand ’n diabeet is, is die glukose (suiker) in die bloed. Te veel daarvan. En op ’n dag, as die diabetes nie verantwoordelik bestuur word nie, haal daardie suiker die lyer in, sê me. Burger.
Dan kom die nierversaking (omdat die niere nie kan bybly met die verwydering van die oormaat glukose in die bloedstroom nie), die hartversaking (omdat die hartare letterlik verstop raak van al die opgeboude suiker), die blindheid (omdat die piepklein aartjies in en agter die oë verstop raak) en amputasies (omdat bloed so vol glukose is dat die selle wat infeksies in die bene, arms of hande moet beveg, nie hul werk kan doen nie).
Dit klink alles verskriklik, of hoe? Maar die saak het ook ’n ander kant. Diabetes kán beheer en bestuur word sodat enigeen wat daaraan ly, menslik gesproke ’n “normale” oudag kan verwag. “Die eerste gevaar van diabetes is die feit dat ’n mens die siekte nie kan sien nie. Die tweede (en praktiese, belangrike) gevaar is dat mense die siekte nie verstaan nie.
“Omdat diabetes in die volksmond as suikersiekte bekend staan, glo baie diabete dat jy doodeenvoudig moet ophou suiker eet. Dit werk nie só nie. “Die werklike probleem is nie die suiker wat jy eet nie, maar die feit dat jou liggaam nie insulien produseer om die suiker in die bloedselle te laat opneem nie (tipe 1-diabetes), of dat jou liggaam insulienweerstandig is (tipe 2-diabetes).”
Me. Burger sê by Nadec sal die span kundiges sorg dat pasiënte wat om hulp aanklop oor elke aspek van die siekte ingelig word. Daarbenewens sal die pasiënt se huisdokter ook gereeld ’n verslag ontvang sodat hy/sy op die hoogte is van die vordering.
Om met die opening saam te val, sal die diabetesbus van die medisynevervaardiger Nova Nortis wat sedert die begin van die maand deur die land toer, heeldag voor die Paramount Gesondheidsorgsentrum geparkeer wees. Verpleegpersoneel van die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste sal lede van die publiek se bloedsuikervlakke gratis toets en aan hulle inligting oor die siekte verskaf.
|