Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

5.02.2010

Sement-deurbraak

• Werk vir duisende geskep
• N$1.5 miljard in Ohorongo belê

© Francoise Steynberg
Hooggeplaastes tydens die daknatmaakseremonie van Ohorongo Cement is van links die voorsitter van Ohorongo Cement en hoof uitvoerende beampte van die Schwenk-groep, mnr. Gerhard Hirth, Eerste Minister Nahas Angula, die Duitse minister van ekonomiese samewerking en ontwikkeling, mnr. Dirk Niebel, en die besturende direkteur van Ohorongo, mnr. Hans- Wilhelm Schütte.

OHORONGO Cement het alle nodige finansiering gereed sodat Namibië se eerste reuse-sementaanleg oor ’n jaar 700 000 ton sement per jaar kan produseer om in die suidelike halfrond te versprei.

Terselfdertyd sal sowat 2 000 huishoudings indirek by die multimiljoenprojek baat vind terwyl sowat 300 direkte werkgeleenthede by die aanleg geskep sal word.

Die sementfabriek wat ’n jaar gelede onder die Schwenk-groep van Duitsland op die plaas Sargberg, noord van Otavi, met die konstruksie van die aanleg begin het, het gister die daknatmaakseremonie gehou waar Namibiese ministers, die Duitse minister van ekonomiese samewerking en ontwikkeling, mnr. Dirk Niebel, die eienaar van die Schwenk-groep, mnr. Eduard Schleicher, asook verskeie buitelandse besoekers teenwoordig was.
© Jan Poolman
Ohorongo Cement het gister sy daknatmaakseremonie op die plaas Sargberg buite Otavi gevier. Die hoogste gebou op die sementaanleg, die voorverhittingsoond, is 109 meter hoog.
Eerste Minister Nahas Angula was die gasspreker by die seremonie en het gesê die reusebelegging van sowat N$2,5 miljard in die Namibiese ekonomie is ’n aanduiding dat Namibië aanloklike beleggingspotensial toon en dat die ekonomiese klimaat wel direkte buitelandse beleggings kan lok.

“Daar is geen twyfel dat die aanleg ekonomiese groei sal stimuleer nie.”

Hy het ook gesê dat die belegging ’n lighuiseffek sal hê en vertroue aan ander potensiële beleggers sal gee om Namibië as ’n beleggingsbestemming te sien. Die beraming is dat 300 000 ton sementuitvoere per jaar sowat U$45 miljoen per jaar vir Namibië sal inbring.

In die verband het hy ook daarop gewys dat die beraamde inkomste ten opsigte van verskillende belastinginkomste tot N$75 miljoen per jaar kan beloop. Die Duitse minister, mnr. Niebel, het gesê Afrika is ’n kontinent van groot geleenthede vir Duitsland.

“Duitsland wil Namibië die grootste sementuitvoerder in Afrika help maak.”

“Die mylpaal wat ons vandag hier vier, is baie belangrik, want ons is steeds binne ons begroting in terme van die tydskedule en kapitale belegging,” het die voorsitter van Ohorongo Cement en hoof uitvoerende beampte van die Schwenk-groep, mnr. Gerhard Hirth, gesê.

Die Europese Beleggingsbank, die Duitse Ontwikkelingsbank en die Ontwikkelingsbank van Suider- Afrika het langtermyn krediet verskaf, en al vier die Namibiese banke is ook genader, het die besturende direkteur van Ohorongo, mnr. Hans-Wilhelm Schütte, bevestig.

Die daknatmaakseremonie vind plaas wanneer die hoogste gebou op die aanleg voltooi is. Die voorverhittingsoond is 109 meter hoog, wat dit een van die hoogste geboue in die land maak.

Om die oond te voltooi, is 700 ton staal en 5 300 kubieke meter beton gebruik op ’n fondament van sowat 3 400 kubieke meter. Sedert die bekendstelling van die aanleg sowat ’n jaar gelede, is 102 000 kubieke meter grond uitgegrawe en is 48 000 ton beton en 3 500 ton staal gebruik.